Die toneel op die N7-Piketbergpad, waar talle beserings opgedoen het. Foto: West Coast Medical Rescue.

‘n Man van die Paarl, wat daarvan aangekla is dat hy verlede week naby Piketberg dronk bestuur en ‘n ongeluk veroorsaak het waarin 31 mense beseer is, sal eers in April in die Piketberg-landdroshof verskyn.

Die 56-jarige man het na bewering die afgelope Vrydag (16 Januarie) omstreeks 16:45 die ongeluk op die N7 naby Piketberg veroorsaak.

Volgens kapt. Tania Helfrich, distrikswoordvoerder vir die Weskus-polisie, het die vragmotorbestuurder vermoedelik beheer verloor, waarna dit omgeslaan het.

“ ’n Bottel drank is voor in die motor by die bestuurder gevind. Alle beseerdes is eers na Rabie Kotze-hospitaal geneem, waarna 11 pasiënte na die Swartland-hospitaal en vier na die Tygerberg- provinsiale hospitaal oorgeplaas is,” het Helfrich gesê.

Personeel van West Coast Medical Rescue is na die toneel ontbied en by aankoms was Metro EMS besig om beseerdes, wat onder die wrak vasgekeer was, te bevry. Volgens ‘n plasing op West Coast Medical Rescue se Facebook- blad is meer as 35 beseerdes op die toneel behandel en met uiteenlopende beserings, van gering tot kritiek, na hospitale vervoer.

“Een pasiënt is per helikopter van die Wes-Kaapse regeringsgesondheid na Kaapstad gehaas, terwyl drie ander pasiënte in kritieke toestand deur West Coast Medical Rescue se ambulanse onder gevorderde lewensondersteuningsorg vervoer is,” lui die verklaring.

Billy Claasen, ‘n direkteur van die Rural and Farmworkers Development-organisasie, sê die voorval beklemtoon weer eens die stelselmatiese minagting vir die veiligheid, waardigheid en lewe van plaaswerkers.

“Oorvol en onveilige vervoer het ‘n dodelike norm in die landbousektor geword, gedryf deur arbeidskontrakteurs en sommige boere wat steeds wins bo mense se lewe ag. Plaaswerkers is nie vrag nie – hulle verdien veilige, gereguleerde en waardige vervoer na en van hul werkplekke. Hierdie herhaalde voorvalle is nie ongelukke nie; dit is voorspelbare gevolge van verwaarlosing, swak afdwinging en uitbuiting.”

Claasen waarsku dat die siklus van beserings en dood sal voortduur tensy beslissende optrede geneem word.

“Die tyd vir waarskuwings is verby. Lewens gaan verlore as gevolg van heeltemal voorkombare nalatigheid,” sê hy.

Hy doen ‘n beroep op die departemente van arbeid en van vervoer, die polisie, landbouliggame en arbeidsinspekteurs om die voorval te ondersoek, alle partye aanspreeklik te hou en wette oor wer- kersvervoer streng af te dwing.

Die beskuldigde verskyn op Woensdag 29 April in die Piketberg-landdroshof.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article