‘n Hondjie as ‘n geskenk is nooit ‘n goeie idee nie. Vra eers die betrokke ontvang- er of hulle na ‘n hond kan omsien. Foto: Karsten Winegeart | Unsplash

Die einde van vakansie beteken dat baie kinders weer by die skool sal wees en mense hul daaglikse roetine hervat. Ongelukkig bring hierdie tyd van die jaar ook impulsiewe besluite oor diere mee. Duisende hondjies en katjies het verlede jaar as “geskenke” onder die Kersboom beland. Oral sien mens die bekende woorde op sosiale media en in WhatsApp-groepe: “Diere na goeie huise.” Dit klink mooi en verantwoordelik, maar die waarheid is dat dié woorde nie meer werk nie. Soms maak dit dinge selfs erger.

Wanneer iemand sê hulle soek ‘n goeie huis vir ‘n hondjie of katjie, klink dit asof hulle seker is die dier gaan veilig en gelukkig wees. Maar wat beteken ‘n goeie huis regtig? Is dit iemand met ‘n erf, iemand wat mooi praat, iemand wat belowe hulle sal na die dier kyk, of iemand wat net sê: “Ja, ek wil hom hê”? Baie mense bedoel goed, maar goeie bedoelings voed nie ‘n dier nie en beskerm hom nie teen mishandeling nie. Sonder behoorlike ondersoek weet niemand of daardie “goeie huis” oor twee maande nog bestaan nie.

Vakansietyd is ‘n gevaartyd vir diere. ‘n Hondjie onder die boom lyk oulik, ‘n katjie in ‘n geskenkboks laat mense glimlag, maar diere is nie speelgoed nie. Hulle groei, raak siek, maak gemors en kos geld. Wanneer skole weer begin en mense werk toe gaan, sit baie van daardie diere skielik in die pad. Dan hoor ons weer: “Ons kan hom nie meer hou nie”, of “Hy is te wild.” Soms word hul meubels verniel en uiteindelik eindig die dier in ‘n situasie waar niemand weet wat om te doen nie, totdat hy maar net losgelaat word of van huis tot huis rondgeskuif word.

Wat baie mense nie besef nie, is dat “gratis hondjies” en “diere na goeie huise” dikwels presies is waarna verkeerde mense soek. Honde en katte word steeds in gemeenskappe gebruik as aas vir hondegevegte, doelbewus gevat om aggressief gemaak te word en uiteindelik geskeur of dood- gemaak, net vir vermaak en geld. Wanneer ‘n dier gratis weggegee word sonder vrae, papierwerk of opvolg, word hy weerloos gelaat. Niemand weet waar hy beland nie en niemand kan hom opspoor of help nie.

Baie mense beland in ‘n situasie wat hulle nie beplan het nie. ‘n Hond kom by die hek lê en niemand kan hom weer weghou nie. ‘n Kat kry skielik ses kleintjies in die stoorkamer. ‘n Straathond kom elke dag terug omdat iemand hom een keer kos gegee het. Jou hart raak sag wanneer jy die ogies sien, die ribbes voel, die piep van ‘n honger hondjie hoor. Jy wil help, maar jy kan nie altyd nie. Die huis is reeds vol, die erf is klein, die motor te klein om almal veearts toe te neem, en die beursie is styf met kos, skole en petrol. Veeartsrekeninge is duur en kos elke maand geld. As ‘n dier siek word, kan dit nie uitgestel word nie. Dit plaas mense vas tussen ‘n hart wat wil help en ‘n lewe wat reeds op sy maksimum is. Hulle voel skuldig as hulle wegkyk, maar oorweldig as hulle ja sê. In die hoop om die dier te help, word die vinnigste uitweg dikwels gesoek, “ ’n goeie huis” maar goeie bedoelings alleen is nie genoeg om ‘n dier veilig te hou nie. ‘n Dier se lewe is meer werd as ‘n vinnige advertensie en ‘n handdruk.

Wat werk beter as “na goeie huise”? Eerstens, sterilisasie. Elke hond of kat wat nie gesteriliseer is nie, dra by tot die probleem. Tweedens, werk saam met betroubare diere-organisasies wat ervaring het met aannemingsprosesse, huisbesoeke en opvolg en weet waarna om te kyk. Derdens, vra vrae: Waar gaan die dier slaap, wie neem hom veearts toe, wat gebeur as mense verhuis, wat as die dier siek word? Vierdens, moenie diere as geskenke gee nie. ‘n Dier is ‘n lewenslange verbintenis, nie ‘n verrassingspakkie nie.

Elke keer as ‘n dier sommer net “na ‘n goeie huis” gaan, neem ons ‘n kans met sy lewe. Soms werk dit uit, maar te dikwels eindig dit in verwaarlosing, mishandeling, rondswerf of ‘n wrede dood. Ons kan nie bekostig om aan te hou soos altyd nie. As jy regtig vir diere omgee, moet ons ophou om hulle net weg te gee en begin om hulle te beskerm.

‘n Goeie huis is nie net ‘n plek nie, dit is ‘n belofte, en ‘n belofte moet bewys word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article