Geniet jou Desember-vakansie met slim geldsake-wenke.

As jy een van dié bevoorregtes is wat be-

plan om hierdie Desember ‘n bietjie weg te breek, doen so voort en geniet jou blaaskans.

Carla Oberholzer, DebtSafe se skuldadviseur, sê: “Dit is nie nodig om jouself platsak te leef nie. Jy kan pret hê binne jou begroting, om nie eens te praat van die besparingsgeleenthede wat wel beskikbaar is nie. Uiteindelik dra elke besparing tot jou geldemmer by.”

Hier is ‘n paar wenke om te verseker jy werk slim met jou swaarverdiende geld:

•  Sit jou begroting of algehele begrotingsbedrag uiteen vir die vakansie/wegbreek en hou daarby. Moenie te veel geld bestee nie en hou jou vakansiegeld eerder in ‘n aparte rekening vir wanneer jy die geld moet onttrek waar nodig. Onthou – kontant kan ook jou vriend wees as jy liewer daardie roete wil volg. Maar, moenie naïef wees nie – maak seker dat jy dit op ‘n veilige plek bêre en bewaar.

•  Neem reisgrootte (mini) toiletware en produkte saam. Moenie toiletware gaan koop sodra jy by jou bestemming aankom nie. Dit kan inderdaad ‘n duur storie word, verál by ‘n gesogte toeriste-bestemming.

•  Pak slim en lig – veral wanneer dit by jou lang roete of vlieg kom (om groot bagasie te verhoed). Indien die plek waar jy oornag, wel ‘n wasplek (wasmasjien en so meer) insluit, is dit ‘n wensituasie vir jou bagasie-/tasgrootte. Indien jy nog nie tyd gehad het nie, sit ‘n paar minute opsy en kyk watter gratis of bekostigbare aktiwiteite daar is vir uitstappies of bestemmings wat jy kan besoek. Kyk wat kan werk met die begroting wat jy beskikbaar het.

•  Speel die ouderdomskaart reg – as jy 60+ jaar oud is, gebruik jou pensioentrekkerkaart en kry ‘n bietjie afslag by winkels of vir toegangsfooie. Ook as jou baba onder twee jaar of ‘n kind of kinders jonger as 12 saamkom, of as jy miskien nog self ‘n student is, want dan kan die ouderdomspeletjie vir seker wondere verrig om ‘n paar rand te bespaar.

•  Reiskoste is taamlik hoog en brandstof is reeds duur. Stap dus waar jy (veilig) kan. En, wanneer jy van vervoer gebruik moet maak – doen deeglike navorsing en maak seker dat die opsie wat jy kies, wel die beste/goedkoopste vir jou sak is.

•  Data is duur in Suid-Afrika. Kyk dus uit vir plekke wat gratis internettoegang bied.

•  Wees op die uitkyk vir plaaslike markte of winkels om byvoorbeeld vars seisoenale groente en vrugte te koop.

•  Bly liewer weg van toeriste-gebiede of -winkels en moenie elke aandenking wat jy sien, gaan staan en koop nie.

•  Maak gebruik van jou huidige besparing-/beloningsprogramme vir jou vakansie, byvoorbeeld wanneer jy jou brandstoftenk laat vol maak of op restaurant-uitstappies gaan.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article