Sy liefde vir en reis na wetstoepassing het begin uit ‘n diep roeping om ‘n verskil te maak.

Vir Joey Pieters (31), ‘n wetstoepasser van die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM), is dit nie net om ‘n verskil in sy gemeenskap te maak nie, maar ook in die lewe van die mense wat hy daagliks dien.

“Veiligheid, orde en dienslewering is vir my nie net werk nie – dit is ‘n verantwoordelikheid wat hart, toewyding en dissipline verg,” vertel hy.

Pieters het sy loopbaan by die SBM as ‘n werker vir die Uitgebreide Openbare Werke-program (EPWP) begin, en hy het later die Chrysalis-akademie voltooi, wat hy as persoonlik en professionele vorming beskryf. In 2018 is hy as permanente algemene werker aangestel, waar hy sy ware passie ontdek het – wetstoepassing.

Pieters is met harde werk en toewyding in November 2022 genader om die rol as Saldanhabaai-veiligheidsinisiatief koördineerder (SBSI) aan te neem.

Die wetstoepasser Joey Pieters.

“Hierdie pos is nie net ‘n titel nie, maar ‘n mandaat om leierskap te toon, bedryfstandaarde te versterk en ‘n brug tussen die polisie, wetstoepassing, gemeenskapstrukture en ander rolspelers te bou.

“Wat my werk vir my besonders maak, is dat dit nie soos ‘n gewone werk voel nie – dit is ‘n passie; ‘n roeping.

“Ek kry vreugde uit die klein oorwinnings, die mense wat ek help, en die sigbare verskil wat ons samewerking maak. Hierdie gevoel van vervulling kan ‘n gewone werk nooit gee nie.”

Pieters het verskeie kwalifikasies verwerf, insluitend ‘n nasionale diploma in polisiëring, en studeer steeds om sy diens aan die gemeenskap te versterk. Hy meen die grootste lewensles wat hy in sy beroep geleer het, is dat ware impak by nederigheid begin.

“Aan jongmense in die Weskus – bou jou pad met deursettingsvermoë, selfdissipline en lewenslange leer. Begin klein, leer uit elke geleentheid en moenie bang wees om op die laagste vlak met mense te skakel nie – daar het jy die grootste invloed. As ‘n enkelouerkind waarvan my ma reeds dood is, was my omstandighede nie my blameerpunt nie, maar juis my grootste aanmoediger tot ‘n beter toekoms. Ek werk ook tans met interne jeuggroepe, wat deel vorm van openbare veiligheid. Dit is een passie wat ek geniet, om met die jongmense te werk, en deel van my planne is om volgende jaar vroeg ‘n jeugstruktuur te begin wat deel van die SBSI sal wees.”

Aan die gemeenskap en besoekers sê Pieters die feestyd is ‘n tyd van viering, maar veiligheid bly die prioriteit.

“Ons is volledig toegewyd om julle te beskerm en al ons SBSI-rolspelers werk saam om gekoördineerde en doeltreffende optredes te verseker.

“Geniet die tyd saam met familie en vriende, wetende dat ons werk om ‘n veilige, ordelike en vreugdevolle omgewing vir almal te skep.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article