Juffrou Christine Barnard het die skoolklok op Woensdag 3 Desember vir oulaas gelui – ‘n simboliese oomblik wat ‘n drie dekade lange loopbaan met toewyding, geduld en liefde vir kinders afgesluit het.
Haar reis in onderwys het reeds in 1987 by die Laerskool Monte Vista begin, waarna sy by die Laerskool Groote Schuur skoolgehou het. Nadat sy na die Weskus herhuis het, het sy haar kinders vir ‘n paar jaar voltyds grootgemaak. Tussendeur het sy Kinderkrans gehou, basaars gereël en by kerkraadsvergaderings ondersteuning verleen.


Op skool het sy dit oorweeg om ‘n jeug- of maatskaplike werker te word, ‘n aanduiding van haar natuurlike roeping om kinders te ondersteun en te bemagtig. Sy was reeds as hoërskoolmeisie aktief betrokke by Kinderkrans en CSV-stranddienste, waar sy veral daarvan gehou het om met kleiner “jonger” groepies kinders te werk.
Sy het poppekas en musiek ingespan om leer vir die kinders meer prettig te maak. Aan die einde van haar matriekjaar het sy finaal besluit dat sy ‘n pad in die onderwys gaan volg. Sy glo dat die Here ‘n mens voorberei vir die keuses wat jy maak, asook die deure wat vir jou oopgaan.
Sy het eers as aflosonderwyseres by die Laerskool Vredenburg begin, maar in 1996 het dit ‘n meer permanente aanstelling geword. Sy sluit nou in dieselfde klaskamer af. Haar gunsteling graad was aanvanklik graad twee, maar haar pad het haar na graad een gelei. Sy dra diep waardering vir Marietjie Bal, wat haar in die aanvangsgraad nie net gehelp het nie, maar haar laat groei het. Volgens haar is ‘n graad-een-klas op sigself ‘n beloning vir harde werk.
Sy het nooit ‘n stilsit-oomblik nie en die groei wat die kind toon vandat ‘n naam met skewe lettertjies op die eerste skooldag geskryf word, tot waar hulle uitstap met selfvertroue, kan lees, klank en somme maak, was vir haar elke jaar nuut en opwindend.
“Dit word verslawend om daardie “aha”-oomblik te ervaar wanneer ‘n kleinding kan lees, of ‘n sin skryf, of ‘n wiskunde-konsep snap. Die graad-een’s is so liefdevol, oop en eerlik. Dit voorsien regtig spesiale oomblikke van lag en speel, terwyl hulle eintlik bitter hard werk.”
Haar liefde vir musiek kom van kindsbeen af…’n tyd voor “CD’s” en toe almal lekker saamgesing het as hulle met vakansie vir Ouma en Oupa gaan kuier het.


Die kitaar was altyd deel van hul bagasie en het later ook deel geword van haar eie lewe. Selfs op CSV-meisieskampe het sy musiek gemaak, want rondom ‘n kitaar is dit altyd vrolik.
Sy het netbal, tennis, voordrag en spreekkore afgerig en vir twee dekades as die skool se VCSV-juffrou gedien.
Vir haar graad-een’s het sy altyd gesê: “Elke outjie maak ‘n foutjie… juffrouens en menere ook. Leer uit jou foute. Niemand is volmaak nie… net Jesus,” vertel sy.
“By die Laerskool Vredenburg is skoolhou meer as net ‘n beroep – dit word jou familie en tuiste. Terwyl ons kinders gevorm het, het ons mekaar geïnspireer om die skool se leuse uit te leef: Net die beste gee voldoening.
“Almal het hard gewerk, maar lekker gewerk. Dit was dae voor sosiale media, ons het die regte ding gedoen soos ons grootgemaak is en nie noodwendig om raakgesien te word nie.”
Juffrou Barnard wil graag ouers aanmoedig om die tyd saam met hul kinders te koester; al die ander besig-wees dinge te los, want voordat jy jou oë uitvee, is die sewe laerskooljare verby.
“Maak memories met dinge wat geld nie kan koop nie. Ek is dankbaar vir elke kind wat my pad by die Laerskool Vredenburg gekruis het. Onderwysers vorm nie net kinders nie, maar hulle leer ook soms hul juffrou lewenslesse.”
Met haar aftrede hoop sy om met dieselfde passie af te tree as waarmee sy begin skoolhou het. Sy sien daarna uit om meer tyd saam met haar gesin deur te bring nadat sy hulle vir soveel jare tweede moes plaas. Ook om nuwe plekke te verken en haar naaldwerk-masjien af te stof. Verdere prioriteite is ontspanning soos braai, kuier by die bure en see-uitstappies waar sy net met die Here kan praat.
Nicoleen Loubser, die hoof van die Laerskool Vredenburg, sê as sy aan Christine Barnard dink, is haar eerste gedagte; My woord is my eer.

“Ek het nooit nodig gehad om aan haar te twyfel nie, en sy was toegewyd en vasberade om in enige kind se potensiaal te glo en te belê. Sy is ‘n voorbeeld en ‘n inspirasie vir baie onderwysers en haar ervaring is iets wat die skool nooit sal kan vervang nie.
“Sy het so baie kinders leer lees en skryf, selfs my eie twee seuns is ook deur haar bekwame hande. Haar opregte Jesus-hart het ewigheidswaarde; ná 30 jaar in die gange van die Laerskool Vredenburg groet ons haar met ons leuse: ‘Net die beste gee voldoening’.”






You must be logged in to post a comment.