Haar reis tot by Weskusskool in Saldanha het in 2004 begin en verryk haar lewe voortdurend.
Delmarie Engelbrecht, die hoof van skool, het in 2004 as taal onderwyser daar begin.Intussen het sy ‘n draai in die Vrystaat gemaak en vir ‘n paar jaar by Fakkelskool, ‘n spesiale skool in Sasolburg, skoolgehou.
“Met my man se bevordering het ons die geleentheid gekry om ná drie jaar terug te trek Saldanha toe en ek het dadelik by Weskusskool aansoek gedoen.
“Dit was die begin van ‘n tydperk waar deure oopgegaan het en ek in die bevoorregte posisie was om op die regte tyd op die regte plek te wees.
“Ek is in 2017 as departementshoof by Weskusskool aangestel en in 2021 as adjunkhoof. Ek is in Desember 2024 as skoolhoof aangestel en dis seker die grootste Kersgeskenk waarvoor ek kon vra.
“Weskusskool is my hartsplek en dit is ‘n groot voorreg om ‘n besonderse skool, onderwysers en leerders na nog groter en unieke geleenthede te lei,” sê Engelbrecht.

Sy is ‘n boorling van Noordwes en het haar opleiding en loopbaan as onderwyser met ‘n B.ED-graad in psigo-opvoedkunde aan die Noordwes Universiteit in Potchefstroom begin, waar sy haar graad in 1992 verwerf het.
Sy het haar honeursgraad in opvoedkundige sielkunde (ook aan die Noordwes Universiteit) in 2001 verwerf en dit is waar haar reis met diverse leerders en alternatiewe onderrigtegnieke in alle erns begin het.
Engelbrecht meen alles rakende Weskusskool is vir haar as skoolhoof lekker – alles van die tegniese werksessies, aangepaste akademie, sport, kultuur en die busvervoerskema tot die alternatiewe ontwikkeling van die skool se leerders.
“By ‘n skool van vaardigheid groei leerders teen hul eie pas. Dit is ongelooflik vervullend om leerders se selfvertroue, vaardighede en onafhanklikheid te sien ontwikkel. Dit bly lekker omdat jy elke dag sien hoe uniek elke kind is.
“As skoolhoof werk ek met ‘n passievolle en kreatiewe span onderwysers. Ons is ‘n span wat werklik vir ons leerders se toekoms baklei.
“Geen dag is dieselfde nie en dis wat dit so lekker maak.
“As skoolhoof bou jy ‘n atmosfeer waar elke kind ‘n kans kry om te glo – ‘ek kan ook’.
“Jy sien die regte, tasbare impak – nie net in punte nie, maar in gedrag, selfrespek en lewensvoorbereiding vir die ambagswêreld.”
Engelbrecht sê haar visie vir die skool is dat dit die vaardig- heidskool van keuse sal wees.
“Elke leerder moet toegerus word met praktiese, verwante en lewenslange vaardighede wat hulle in staat sal stel om hul plek in ‘n moderne, vinnig veranderende bedryfgedrewe samelewing met selfvertroue, trots en onafhanklikheid in te neem.”
Noudat die 2025 skooljaar afsluit, bedank Engelbrecht almal vir hul insette.
“Dit was ‘n baie bedrywige jaar met talle projekte, uitdagings en oorwinnings. Dit is wat die Weskusskool-gemeenskap so besonders maak. Ek is ongelooflik trots op ons skool en leerders. Elke kind het in hierdie jaar gegroei, geleer en volhard. Opgee was net nooit ‘n opsie nie.
“Aan my onderwysers: Dankie vir uithou en aanhou. Dit is julle wat ‘n verskil maak en ‘n verskil in ons leerders se lewens bring – soms groter as wat julle ooit sal weet. Die impak van jul opvoe-ding en onderrig leef ver buite die klaskamer. Ek waardeer julle.
“Dankie ook aan ons ouers wat betrokke is, hul kinders aan ons toevertrou, aanmoedig en onder- steun. Dit verg ‘n span om ‘n kind te laat groei en u betrokkenheid maak ons werk betekenisvol.
“Vir my as skoolhoof is dit belangrik dat ek entoesiasme by onderwysers en leerders sal kweek. ‘n Positiewe skoolkultuur lewer positiewe onderwysers en positiewe leerders,” sê Engelbrecht.






You must be logged in to post a comment.