Die entoesiastiese span van Silvertree, Langebaan. Foto Letitia Van Zyl-Schultz

Letitia Van Zyl-Schultz

Die jaarlikse Golden Games het verlede Donderdag (27 November) op die Vredenburg-sportterrein plaasgevind waar energieke senior burgers weer eens gewys het dat ouderdom gewis geen hindernis is om aktief te wees nie.

Met deelnemers tussen 64 en 88 jaar oud het die spele ‘n kleurvolle bewys gelewer van waar daar ‘n wil is, kan dinge nog moontlik wees.

Ses senior klubs van reg oor die Weskus het aan die dag se sport, wat spesiaal vir bejaardes geskep is om gesondheid, mobiliteit en ‘n gesonde leefstyl te bevorder, deelgeneem.

Die atmosfeer op die veld was een van goeie gees en vriendskap, met deelnemers wat mekaar ondersteun en aangemoedig het. Van die 100 m-wedloop, die 500 m-drafstap en ringgooi tot jukskei – daar was items vir “jonk en oud”.

Volgens die organiseerders is die doel van die Golden Games om te wys wat senior burgers steeds kan doen en hulle die kans te gee om aktief, sosiaal en positief oor hul lewensfase te bly.

Die spele dien as ‘n herinnering dat beweging, saamwees en pret deel van ‘n goeie lewensgehalte kan wees, ongeag wat jou ouderdom is.

Met die klubs se entoesiasme en die deelnemers se aansteeklike energie heers groot opgewondenheid reeds oor volgende jaar se spele, wat ‘n besonderse mylpaal sal vier; die 20ste bestaansjaar van die spele. Die organiseerders belowe dat 2026 se byeenkoms groter, feesteliker en meer insluitend sal wees.

Die Golden Games bly ‘n inspirasie vir die Weskus-gemeenskap, ‘n lewende bewys dat aktiewe veroudering nie net moontlik is nie, maar vreugde kan bring.

Vital Connection van Saldanha se seniors dra trots hul vaandel.
Die Golden Leaves Community Outreach van Saldanha het helder uitgestaan.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article