Keagan Engelbrecht
Extreme Abilities begin die nuwe seisoen met ‘n reuse-brander van moontlikhede vir die komende Desembervakansie.
Die organisasie se stigter, Dries Millard, is in 2008 op die jong ouderdom van 18 in ‘n motorongeluk verlam en het twee jaar later ‘n platform vir branderplankry vir gestremdes gestig, aangemoedig deur sy eie gestremdheid en liefde vir die water.
Saam met sy broer, Albert Millard, verskaf Extreme Abilities deur die loop van die jaar branderplankry-opleiding vir plaaslike inwoners in die Saldanha- baai-munisipale omgewing.
Hulle ontmoet Dinsdae vir ‘n swemsessie by Dial Rock, en Donderdae en naweke ontmoet hulle op ander plekke vir branderplankrylesse.
Hul gestremde branderplankryspan gaan in April volgende jaar weer Durban toe vir die parasurf-kampioenskap.
Tydens skoolvakansies bied hulle lesse aan om kinders te leer swem en branderplank te ry. Hulle verskaf ook die nodige hulpbronne, soos branderplanke en swempakke.
Extreme Abilities gaan in die komende Desembervakansie branderplankrylesse by Paternoster aanbied, en hulle begin die seisoen met hul Open Surf-kompetisie van 12 tot 14 Desember.
Die wenner wen ‘n Reef-duikpak ter waarde van R3 000, die naaswenner kry R2 000 en die derdeplekwenner R1 000.
Albert deel ‘n paar wenke met diegene wat vanjaar die water op hul eie wil aandurf, om veilig te bly:
• Swem waar menseredders aan diens is. As jy nie kan swem of die see ken nie, is jy in gevaar. Die beste is om na die plaaslike lewensredders te luister; bly tussen die vlae.
• Kyk na die see voordat jy ingaan. As die see te rof is, moenie ingaan nie.
• Die heel beste ding wat jy kan doen, is om te leer swem en die see te leer ken. Dit is nie altyd maklik om van die land af ‘n stroom te sien nie en nog moeiliker om kalm te bly wanneer jy in ‘n stroom vasgevang word. “Tydens ons swemsessies leer ons kinders hierdie rympie: Onthou, wanneer jy paniekerig raak, moenie ‘paniekeer’ nie.”
• Moenie teen die stroom swem nie. Moenie probeer uitswem waar jy ingekom het nie. Wanneer ‘n stroom jou “vang”, bly kalm en swem na die golwe kant toe. Dit is skrikwekkend in die sleurstroom, maar jy sal die strand bereik.
Albert sê branderplankryers word gereeld gevra wanneer die see dan gevaarlik raak.
“Dis wanneer jy moeg raak. Die koue Atlantiese oseaan se water maak dinge ook nog moeiliker, wat juis is hoekom ons dit glad nie aanmoedig om in die oop see sonder ‘n duikpak te swem nie.”
• Besoek Extreme Abilities se webtuiste by extremeabilities.co.za vir nog inligting.





