Novus Media, ‘n afdeling van die JSE-genoteerde Novus Holdings en Weslander se houermaatskappy, het vandag die bekendstelling van Die Papier aangekondig: ‘n weeklikse, Afrikaanse koerant wat van 6 Maart 2026 af sal verskyn. Hierdie strategiese uitbreiding versterk Novus Media se posisie in die drukmedia-mark, waar dit voortgaan om titels te bekom en te bou wat waarde aan teikengehore bied.

Die Papier sal elke Vrydag in druk- en ook digitale formaat gepubliseer word, en sal omvattende dekking bied van die week se nuus en die naweek se gebeure, asook gemeenskapstories, sake-ontwikkelings, sport, kultuur en leefstylinhoud wat spesifiek vir Afrikaanssprekende lesers oor Suid-Afrika heen van belang is.

André van der Veen, HUB van Novus Holdings, sê dat die geleentheid om gedrukte publikasies in gefokusde markte te ontwikkel en te ondersteun steeds aantreklik bly, maar wys daarop dat dit ‘n nuwe manier van werk en ‘n gedetailleerde fokus op lesersbehoeftes vereis.

“Die span by Novus Media is opgewonde om Die Papier bekend te stel en sal ons druk- en digitale kundigheid kombineer om daaglikse digitale nuus saam met ‘n weeklikse koerant te lewer. Vir baie Afrikaanse lesers is daar ‘n sterk begeerte om nuus in ‘n koerantformaat te lees, en ons is vol vertroue dat die Afrikaanse gemeenskap Die Papier sal ondersteun onder die leierskap van Esmé Smit en Barnard Beukman.”

“Die Papier is betekenisvol in ons evolusie aangesien dit ons eerste nasionale nuuspublikasie is,” sê Esmé Smit, direkteur van Novus Media.

“Ons het die geleentheid in die mark opgemerk vir gehalte- Afrikaanse joernalistiek wat werklik nasionaal met gemeenskappe in druk- én digitale formaat skakel. Hirdie publikasie sal die ryke tradisie van Afrikaanse media eer terwyl dit moderne tegnieke en digitale vernuwing omhels. Die bekendstelling van Die Papier spreek die groeiende vraag na gehalte- Afrikaanse inhoud aan. Met meer as 7 miljoen Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika, beoog die publikasie om as ‘n belangrike skakel tussen lesers en hul gemeenskap te dien.”

Barnard Beukman, wat as die eerste redakteur aangestel is, voeg by: “Die besluit om ‘n nuwe koerant te begin verteenwoordig ‘n historiese oomblik. Dit spreek Afrikaanse lesers se volgehoue behoefte aan, ook as Suid-Afrikaners, soos beskryf deur Arthur Miller, ‘n Amerikaanse skrywer: ‘ ‘n Goeie koerant is ‘n nasie in gesprek met homself.’

Volgens Beukman sal Die Papier se unieke kenmerk in die Afrikaanse media-aanbod gehalte-joernalistiek wees, eerder as blote verslaggewing.

“Ons gaan die nuwe tuiste saam met lesers vorm, want kwessies waarin hulle belangstel en wat hulle interesseer gaan sentraal staan. Jonger lesers gaan ook tuis voel, want ons gaan die gapings oorbrug na belangstellings en formate wat hulle tans net op sosiale media kan ervaar. Ek wil vra dat die Afrikaanse gemeenskap die koerant van die eerste dag af ondersteun en ons help om dit as ‘n spieël van hul wêreld te vestig.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article