Ter illustrasie: Minstens sewe Weskussers word betrek by 'n reuse-bedrogsaak
Ter illustrasie: Pato 10 – Nog aanklagte teen beskuldiges word verwag.

Alida Buckle

Nóg aanklagte gaan moontlik teen die nege sakemanne en ‘n sakevrou van Paternoster, Velddrif, Wellington en Kaapstad gevoeg word. Hulle staan sedert hul inhegtenisneming in Mei vanjaar tereg op aanklagte van bedrog van meer as R300 miljoen en die oortreding van die Maatskappywet.

Kobus Pienaar (69), André Eigelaar (75), Johan Eigelaar (70), Carel Mienie (56), Meiring Tarrant (55), Minette Louw (44), Albert Marais (68), Petrus Ma­rais, Bennie Lubbe en Nico Latsky het verlede Vrydag (21 November) vlugtig in die Vredenburg-distrikshof verskyn.

Landdros Hayley Kinnear het die saak aangehoor.

Die saak is uitgestel om die nuwe staatsaanklaer, die senior staatsadvokaat Thersia du Toit-Smit, op die rol te plaas en haar die geleentheid te gun om deur die hofdokumente te werk.

Du Toit-Smit, wat die saak by adv. Louis van Niekerk oorneem, is bekend vir haar werk as spesialis-aanklaer in handelsmisdaadaangeleenthede by die Skerpioene (direktoraat van spesiale optredes) en nou by die Nasionale Vervolgingsgesag.

Lang lys aanklagte:

Die beskuldigdes se maatskappye word ook aangekla omdat dié entiteite die markmanipulasie voorgegaan het. Dit behels benewens die Paternoster Groepbelange (PGB) ook AJF Eigelaar en Seuns, Belhoewe (Albert Marais), Oulap (Pienaar), Visprodusente en Uitvoerders (Pienaar en Minnie), die Trans-Republikeinse Visserybeleggings (Pienaar en Lubbe), die prokureursfirmas Ingwesen, Feenstra en Marais van Wellington (Petrus Marais) en Marais Müller Henricks van Kaapstad (Albert Marais), sowel as ‘n Durbanvillese ouditeursfirma, PKF Kaapstad (Lubbe en Louw).

Benewens die aanklagte van bedrog en die oortreding van die Maatskappywet staar hulle ook aanklagte van die oortreding van die Wet op Finansiële Markte in die gesig. Van dié oortredings is bylaevyf-oortredings wat as ernstige misdade beskou word en tot langer tronkstraf kan lei.

Verder is ‘n aanklag van regsveryde­ling teen al die beskuldigdes en ‘n klag van diefstal teen Kobus Pienaar, Petrus Marais en André en Johan Eigelaar, nie-beherende direkteure van die sogenaamde EPM-blok (die Eigelaar-, Pienaar- en Marais-families) bygevoeg. Hulle het na bewering sedert 2006 tot 2019 onwettig reistoelae van sowat R184 000 per jaar ontvang sonder die goedkeuring of magtiging van die aandeelhouers, wat teenstrydig is met die Maatskappywet.

Die ouditeure – Lubbe, Louw en PKF Kaapstad word van die oortreding van die Wet op die Ouditprofessie aangekla.

Bykomende aanklagte verwag:

Die hooffluitjieblaser in die saak beweer die beskuldigdes het geweet die oortreding kan tronkstraf beteken, maar geglo hulle sal niks oorkom “as niks . . . uitkom nie”. Luidens die klag- staat is die ongerymdhede op direksie vergaderings van die PGB bespreek, maar daar is te kenne gegee dat niemand oor die oortredinge sal uitpraat nie.

Die staat voer aan dat die beskuldigdes tussen 2006 en 2019 amper 13 jaar aandeelpryse gemanipuleer het deur as meerderheidsaandeelhouers die minderheidsaandeelhouers te bedrieg en aandele teen baie minder as wat dit werd was, terug te koop. Dit is ‘n soort maatskappytransaksie wat bykomende regulatoriese ondersoek en vereistes veroorsaak, insluitend goedkeuring van die Oornamereguleringspaneel.

Luidens die klagstaat het die beskuldigdes se daaropvolgende beweerde vals en misleidende wanvoorstellings tot verliese van ‘n geraamde R300 miljoen vir minderheidsaandeelhouers gelei.

Die borgtogvoorwaardes behels onder meer dat die beskuldigdes op geen manier met die staat se 19 getuies mag inmeng of hulle intimideer nie. Indien hulle oorsee of elders wil reis, moet hulle dit vooraf met die ondersoekbeampte uitklaar.

Du Toit-Smit het aangedui dat die aangepaste klagstaat, wat vroeër vanjaar deur Van Niekerk aan die hof voorgelê is, onveranderd gaan bly, behalwe dat daar moontlik nóg aanklagte bygevoeg gaan word.

Landdros Kinnear het die saak uitgestel na Vrydag 13 Februarie vir die prokureurs en advokate om verdere instruksies te neem. Die beskuldigdes se borgtog, wat teen R10 000 elk aan hulle toegestaan is, is steeds van krag.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article