Die Weskus treur ná die onverwagte dood van Roseline Geraldine Cloete.
Roseline is verlede Maandag (3 November) oorlede nadat lewerkanker slegs drie dae voor haar sterfte by haar gediagnoseer is.
Volgens haar man, George, het sy vir drie maande pyn weens oorinflammasie en aanhoudende hoofpyn ervaar.
Roseline het die afgelope drie en ‘n half jaar as maatskaplike werker by die Siyabonga Care Villiage gewerk, waar sy met mense met gestremdhede en hul families in die gemeenskap gewerk het. Sy het ook ‘n leidende rol in die sifting van verwysings na Siyabonga se residensiële fasiliteite en programme gespeel.
Sy het daagliks individuele berading sowel as groepsessies met inwoners van die Saldanhabaai- munisipale omgewing gedoen.

George sê sy vrou het haar roeping as maatskaplike werkster uitgeleef en haar werk met toewyding en integriteit gedoen.
“Die uitwerking wat die beroep op veral weerbare gemeenskappe het, het Roseline ‘n lewensdoel gegee wat haar tot haar einde gemotivieer het.Sommige bestuurslede en kollegas het ewige vriendskappe geword weens die impak wat sy in hul lewe gehad het.Sy het ‘n wye netwerk opgebou wat tot voordeel vir haar werk en kliënte asook tot voordeel van ons groei in ons beroepe en kinders se studies. Haar werksetiek was voorbeeldig en sy het vir niks teruggestaan nie en was altyd bereidwillig om die ekstra myl te loop vir elke persoon wat haar pad gekruis het.
“Sy was my groot inspirasie. Ons het ‘n gedeelde passie vir gemeenskaps- ontwikkeling en kon op mekaar se kennis, ervaring en ondersteuning staatmaak. Roseline het alle projekte en uitdagings in die beroep aangepak met groot entoesiasme en geesdrif.”
Hy beskryf Roseline as ‘n sagte, liefdevolle omgee-mens, wat almal se hart met die mooiste glimlag warm gemaak het. “Sy het ‘n goeie sin vir humor gehad, maar was ook ferm wanneer nodig. Sy was ‘n voorbeeld van veerkragtigheid en het enige uitdaging met geloof, vasberadenheid en wilskrag aangepak.”
George meen hy gaan haar liefde, nabyheid, warmte, wysheid asook positiewe gees wat hom as lewensmaat in alles ondersteun het, verskriklik mis.
“Saam het ons baie vermag en mekaar as ‘n span aangevul. Ons het alle belangrike mylpale van ons gesin met familie en vriende gevier.”
Chrisna du Plessis, die stigter van Siyabonga Care Village, beskryf Roseline as ‘n pragtig mens. Sy beskryf haar ook as een wat nooit enigiemand geminag of geïgnoreer nie het nie.
“Sy het uit haar pad gegaan om almal te help. Sy het was fantasties en het meer as net haar allerdaagse werk gedoen. Ons gaan haar ontsaglik baie mis en ek het soveel respek vir haar gehad. Sy het ‘n groot verskil in so baie mense se lewe gemaak,” sê Du Plessis.
Roseline laat haar eggenote, George, en twee kinders, René en Darren agter. Albei kinders volg ‘n beroep in teater en filmwerk. Roseline het hul loopbane met passie en bewondering gevolg en met trots hul prestasies gevier. Sy het seker gemaak dat haar netwerke reg is om hulle te beskerm en veilig te hou waar hulle ook al teaterwerk moes doen.






You must be logged in to post a comment.