Die eerste twee artikels in hierdie reeks het munisipale finansiële state van vyf Weskus-munisipaliteite ontleed. Vandag se artikel fokus op tariefverhogings tussen 2021 en 2024 en ondersoek hoe dit bekostigbaarheid en inkomsteprestasie beïnvloed.
Jaarlikse gemiddeldes is gebruik om skommelinge glad te stryk en onderliggende tendense te openbaar.
Oor die distrik, wat Saldanhabaai, Bergrivier, Cederberg, Matzikama en Swartland insluit, het tariewe vinniger as verbruikersinflasie (VPI, 5,53%) én huishoudelike inkomstegroei gestyg.
Noodsaaklike dienstetariewe het jaarliks met 6% tot 13% gestyg, wat huishoudelike koopkrag in sommige dorpe met tot sewe persentasiepunte per jaar verminder het.

Bergrivier is relatief die duurste munisipaliteit, hoofsaaklik weens skerp verhogings in vullis- en elektrisi- teitskoste. Matzikama is die mees bekostigbare, met gemiddelde tariewe effens onder inflasie, hoofsaaklik vanweë laer eiendomstariewe. Hierdie tendense dui op ‘n groeiende bekostigbaarheidskloof: Selfs matige stygings bo inflasie kan oor tyd aansienlike werklike laste skep – veral vir lae-inkomste huishoudings.
Hoë tariewe begin nou inkomsteprestasie beïnvloed. Wanneer werklike inkomste agter begrotingsverwagtinge bly, dui dit daarop dat huishoudings sekere dienste verminder of uitsluit.

Tot dusver het demografiese groei, insluitend nuwe huishoudings en regularisering van informele nedersettings, verminderde verbruik onder bestaande huishoudings teengewerk.
Tog is hierdie “volumebeskerming” broos – indien bevolkings- of behuisingsgroei verlangsaam, kan inkomste skerp daal namate bekostigbaarheidsgrense bereik word.
Munisipaliteite verkry 60-70% van hul inkomste uit diensgeld en eiendomsbelasting. Wanneer tariewe vinniger as inflasie styg, maar verbruik stagneer, beland hulle in ‘n inkomsteval – hoër pryse kan laer verbruik ver- oorsaak, wat totale inkomste beperk. Hierdie patroon weerspieël klassieke vraagelastisiteit, veral vir elektrisiteit en water.

Elektrisiteit en water tree nou soos mededingende goedere op. Sodra pryse te hoog word, soek huishoudings alternatiewe. In teenstelling hiermee bly eiendomstariewe en sanitasie vaste, onvermydelike koste.
Munisipaliteite het die einde van die tariefpad bereik. Verdere verhogings kan inkomste selfs verminder of weerstand veroorsaak. Volhoubare finansies hang nou af van doeltreffendheid en vernuwing – nie net pryse nie.
Aanbevelings sluit in:
• Slimnetwerke en intydse monitering vir dinamiese gebruiksbeheer.
• Voorafbetaalde en datagedrewe platforms om faktuurakkuraatheid en invorderingsyfers te verbeter.
• Vennootskappe met gemeenskappe en private verskaffers om diensmodelle te diversifiseer en infrastruktuurrisiko’s te deel.
Munisipale lewensvatbaarheid sal toenemend afhang van hoe goed hulle kan moderniseer, saamwerk en waarde lewer in ‘n veranderende dienste-ekonomie.
• Dr. Clive Coetzee is ‘n senior lektor in die fakulteit krygskunde by die Militêre Akademie aan die Universiteit Stellenbosch.




You must be logged in to post a comment.