Munisipale besluite raak jou sak. Foto: Sincerely Media | Unsplash
Munisipale besluite raak jou sak. Foto: Sincerely Media | Unsplash

Die vraag oor hoeveel dit werklik kos om in verskillende munisipaliteite te woon, hou my lankal besig. My gevoel was nog altyd dat plaaslike regering in Suid-Afrika duur is – maar dit was meer ‘n vermoede as ‘n bewese feit.

Ek het in verskeie munisipaliteite gewoon en telkens opgemerk dat geen standaardmaatstaf vir tariefbepaling bestaan nie. Elke munisipaliteit stel sy eie tariewe vas – van elektrisiteit en water tot vullisverwydering en eiendomsbelasting.

Dit maak vergelykings ingewikkeld. Met 257 munisipaliteite landwyd (agt metropolitaans, 44 distrik en 205 plaaslik) en geen sentrale databank vir belasting en tariewe nie, moet elkeen se “belasting-en-tarief”-dokument afsonderlik geraadpleeg word.

Om die taak hanteerbaar te maak, het ek geouditeerde finansiële state gebruik, spesifiek die inkomste-afdeling van die Staat van Finansiële Prestasie. Dit wys hoe munisipaliteite hul inkomste verkry en, indirek, hoe duur dit vir inwoners is.

Ek het gekonsentreer op inkomste wat huishoudings direk raak – diensgeld vir elektrisiteit, water en afvalwaterbestuur, die verkoop van goedere en dienste en eiendomsbelasting. Elektrisiteit, water en eiendomsbelasting is die grootste deel van maandelikse rekeninge, terwyl afvalwaterbestuur en kleiner dienste minder sigbaar, dog steeds belangrik is.

Om regverdige vergelykings te tref, het ek inkomste per munisipaliteit volgens die ekonomies aktiewe bevolking (20-65 jaar) aangepas. Dit lewer ‘n maatstaf van “koste per ekonomies aktiewe inwoner”, wat beklemtoon hoe swaar die finansiële las op dié groep val.


Weskus as gevallestudie
Ter illustrasie het ek op vyf munisipaliteite in die Weskusdistrik gefokus:

  • Bergrivier,
  • Cederberg,
  • Matzikama,
  • Saldanhabaai en
  • Swartland.

Gemiddeld lyk hulle finansieel gesond. Hulle genereer ‘n groot deel van hul inkomste self en is dus minder afhanklik van nasionale toelaes – ‘n teken van lewensvatbaarheid.

In die nasionale ranglys van 257 munisipaliteite vaar hulle redelik goed: Bergrivier is 33ste, Cederberg 47ste, Matzikama 40ste, Saldanhabaai 9de, en Swartland 32ste. Dit wys op sterk eie-inkomste-opwekking.

Die ontleding van die tabel (sien bo) verduidelik die belangrikste kolomme:
• Eie inkomste as % van totale inkomste: wys hoe selfstandig ‘n munisipaliteit is.
• Eie-inkomste-ranglys: Vergelyking met ander munisipaliteite landwyd.
• Finansiële grootte- en bevolkingsgrootte-ranglys: Dui op relatiewe skaal.
• Kosteranglys: Bereken koste per ekonomies aktiewe inwoner.
• Koste vs grootte/bevolking: Bepaal of ‘n munisipaliteit relatief “duur” of “goedkoop” is.
Wat staan uit?
Die vyf munisipaliteite neig almal na die “duur” kant wanneer hul koste gemeet word teenoor hul finansiële en bevolkingsgrootte. Selfs Saldanhabaai, wat nasionaal negende in eie inkomste-opwekking is, word steeds as duur geklassifiseer.

‘n Belangrike vraag is of hierdie hoër koste bloot die gevolg van vraag en aanbod is. Alternatiewelik kan dit dui op ondoeltreffendhede, waar hulpbronne nie optimaal aangewend word nie.

Nog ‘n vraag is of “duur” net die koste van finansiële onafhanklikheid en volhoubaarheid is. Munisipaliteite wat minder afhanklik is van toelaes, kan hoër tariewe hef om selfstandig te bly. Tog beteken dit dat inwoners ‘n swaarder finansiële las dra – veral in ‘n tyd waar lewenskoste steeds styg.
Betaal ons dan te veel vir basiese munisipale dienste?
Die data wys duidelik dat inwoners van die Weskus duurder uitkom as wat hul finansiële en bevolkingsprofiele sou voorspel. Of dit die prys van volhoubaarheid is, of bloot ‘n teken van ondoeltreffendheid, is nog oop vir debat.
Een ding is egter seker: As jy jou maandelikse rekening oopmaak en wonder hoekom dit só hoog is – jy is nie alleen nie.
• Dr. Clive Coetzee is ‘n lektor in die ekonomiedepartement, fakulteit krygskunde, by die Universiteit Stellenbosch.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article