Slegte woonomstandighede laat inwoners van die White City- tydelike hervestigingsgebied moedeloos. Volgens een inwoner is dit ‘n daaglikse stryd om teen plae soos muise, slange en muskiete te baklei – lewensomstandighede waarin niemand hulself wil bevind nie.
Die inwoner meen ‘n ooreenkoms is met die munisipaliteit aangegaan om vir een jaar sonder krag te woon, maar tot dusver is hulle steeds in dieselfde posisie. “Die feit dat ons van krag af kom en jare met krag gelewe het, het die winter ons nogal heeltemal verras. Dit was ook nie net ‘n aanpassing nie, maar ‘n groot gevaar en ongerief. Veral die ysige koue wat jou stoom laat blaas en uitasem laat. Die koue wat onophoudelike hoes en verkoue vir mans vroue en kinders veroorsaak het, kon deur middel van ‘n verwarmer verminder of voorkom word. Veral met die houtstrukture kan ‘n winter sonder krag nogal ‘n nagmerrie raak. Mense met kroniese mediese kondisies moet regtig vir die Here Jesus dankbaar wees dat hulle deur die koue sonder krag daar gekom en oorleef het.”
Buiten die koue winter sê inwoners moes hulle ook plae in die gesig staar tydends die somer weens lang bosse wat rondom die gebied, wat deur die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) versorg moet word, groei.
“Die oop stuk veld lyk soos bosbou. Die klomp muise, rotte, spinnekope, slange en muskiete word gelok deur die dik bosse hier, wat nie gereeld gesnoei word nie. Dit is al weer amper somer; steeds ‘n gekners van tande. As die slange ons mense en kinders hier pik, wie se skuld is dit? Die behuisingsafdeling sal moet ophou met mense maak soos hulle wil. Ons het al so baie rommel opgetel, maar die munisipaliteit bring vir ons net twee swart sakke per week.”
Tereza Burger, ‘n woordvoerder vir die SBM, sê hulle neem kennis van die bekommernisse van die inwoners en bevestig dat die hervestigingsgebied geskep is as ‘n tydelike reëling om die gesinne wat in die informele gebied in Tonynstraat gewoon het, te huisves tydens die konstruksie van dienste en moontlike behuising.
“Die gesinne sal dus ná voltooiing van huise permanent na ‘n volhoubare behui-
singsgebied verskuif word. Die munisipaliteit verstaan dat die huidige omstandighede uitdagend is en neem kennis van die ongerief wat dit vir inwoners veroorsaak. Die gebied word voorsien van tydelike water en sanitasiegeriewe. Die straatbeligting wat opgerig is, is om veiligheid in die gebied te verbeter en hierdie reëling, onder meer, is ook in samewerking met die tydelike gebied se gemeenskap ooreengekom dat krag nie voorsien kan word nie as gevolg van kostes vir die voorsiening.
“Die munisipaliteit is bewus dat inwoners ‘n vinniger oplossing verlang, maar elektrisiteitsvoorsiening verg ‘n groot finansiële belegging wat nie tans in die begroting is nie, en ook nie vir die munisipaliteit ekonomies gaan wees nie.”
Burger sê met betrekking tot die instandhouding van openbare ruimtes, insluitend die snoei van gras en verwydering van bosse, sal die betrokke afdeling die gebied inspekteer en skoonmaakaksies beplan om die risiko van peste en slange te verminder. “Die instandhoudingsprogram vir oop ruimtes het eers einde Augustus weer begin. Die betrokke gebied is op die munisipaliteit se program vir September en Oktober. Inwoners word ook aangemoedig om probleme betyds by die munisipale kliëntediens (Inbelsentrum 022 701 7061) of by die gebiedsingenieur se kantoor by 022 714 8039 aan te meld sodat dit vinniger aangeteken en opgevolg kan word.”
Burger sê die SBM bly daartoe verbind om die lewensomstandighede van inwo-
ners binne beskikbare hulpbronne en wetlike raamwerke te verbeter.
“Die munisipaliteit het die konstruksie
van dienste in Augustus voltooi en is tans besig om ‘n diensverskaffer vir die konstruksie van die huise aan te stel vir mense wat ingevolge die nasionale en provinsiale behuisingskriteria daarvoor kwalifiseer.”
Die inwoner meen egter geen mens sal in hierdie omstandighede wil woon nie en bekommer hom oor die gesondheid, veiligheid en welstand van al die inwo-
ners. Hy meen iets moet dadelik gedoen word. “Ek wens en bid dat ons nie nog ‘n winter sonder krag moet deurmaak nie, ter wille van almal.”



