Ouers van die Longacres- privaatskool het hul verligting uitgespreek nadat ‘n onderwyser oor wie hulle al ‘n geruime tyd hul ontevredenheid uitspreek, die skool verlaat het.

Die ontevredenheid was deels oor die manier waarop die onderwyser glo hul kinders behandel het.

Nog ‘n kwessie wat ouers ontstel het, was bewerings dat die onderwyser geen formele oplei-

ding of kwalifikasies het nie.

Hulle het ook beweer dat die genoemde onderwyser kringtelevisie-beeldmateriaal misbruik het om weke ná netelige oortre-

dings videomateriaal na te gaan en dan daarvolgens straf toe te ken.

In ‘n navraag vroeër vanjaar aan die skool oor dié klagtes (“Onmin oor ‘kwaai’ onnie”, Weslander, Donderdag 28 Maart 2025), het die skoolhoof, Edmund Barkhuysen, gesê die skool neem kennis van die klagte en bewerings en beskou dit in ‘n uiters ernstige lig. Barkhuysen het bygevoeg dat dit deurgaans die skool se hoofdoel is om in die beste belang van elke leerder op te tree.

Die skool het in ‘n onlangse omsendbrief geskryf die onderwyser keer nie terug na die skool nie weens “verskeie operasies” en is “aangeraai om dit eerder rustig te vat vir die res van die jaar”. Die genoemde onderwyser wou nie in hierdie stadium kommentaar lewer nie, maar het gesê sy sal by ‘n later geleentheid oor die aange- leentheid praat.

‘n Ander onderwyser sal vir die res van 2025 met dié onderwyser se klasse voortgaan.

Ouers meen egter dit is nie die waarheid nie. Hulle glo vas die onderwyser het die skool verlaat weens die ouers se stryd om agter die waarheid oor onder meer haar kwalifikasies te kom.

Een ouer het gesê sy is verlig dat die onderwyser nie meer daar skoolhou nie, maar voeg by dat die skade reeds aangerig is.

Sommige gr. 12-leerders het glo onder viktimisering deurgeloop, nie die korrekte en nie voldoende onderrig in die Engelse kurrikulum gekry nie.

Die leerders wat na bewering deur dié onderwyser getraumatiseer is, moet volgens die ouers boonop “ ’n pad na herstel stap, wat hartseer is”.

“Kinders moet deur die volwassenes in hul lewe beskerm word, hetsy ouers of onderwysers,” sê die ouer.

“Ter wille van die leerders en die paar steeds toegewyde opvoeders wens ek opreg dat dinge sal verbeter. Ek het egter nie hoë verwagtinge nie, aange- sien daar steeds onderwysers is wat óf onbevoeg is óf nie gekwalifiseer is vir die poste wat hulle beklee nie. Onderwysers kom en gaan, soos dit normale praktyk is,” is nog ‘n ouer se mening.

‘n Ander ouer bedank almal wat met die stryd tot nou gehelp het. “Saam het ons onvermoeid baklei om die waarheid bloot te lê en met die ondersteuning van besorgde ouers is ons daartoe verbind om ‘n veiliger, boelie- vrye omgewing te skep waar leerders kan floreer en hul volle potensiaal kan bereik. Ons glo die skooleienaars moet verantwoordelikheid neem vir die ontstellende ervarings van leerders, onderwysers en ouers tydens die ‘onderwyser’ se termyn. ‘n Opregte verskoning sal ‘n belangrike stap wees in die rigting van genesing en die herbou van vertroue.”

Nog ‘n ouer het bygevoeg sy twyfel of die skool op ‘n beter pad is.

“Dit is die afgelope paar jaar maar net afdraande – te veel probleme en [geen] oplossings is in sig nie. Kry die onderwysers in hul regte vakke en gee hulle opleiding om met kinders te werk. Die skoolfonds is nie die geld werd nie.”

Aan die leerders wat boelie- gedrag en mishandeling ervaar het, wil een ouer hulle laat weet dat daardie ervarings nie hul waarde definieer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article