Op Donderdag 31 Julie omstreeks 18:20 het ‘n 34-jarige man en sy passasier in ‘n vragmotor by ‘n motorhek in Buitelaan, Vredendal, gewag dat die hek oopgaan. Twee kapers het met ‘n voertuig agter die vragmotor stilgehou en uitgespring. Hulle het geld by die vragmotorbestuurder en sy passasier geëis.
Hierna het hulle die vragmotor se ruit met ‘n byl stukkend geslaan waarna die vragmotorbestuurder en die passasier weggehardloop het.
Die kapers het met die vragmotor, R16 000 kontant en ander artikels gevlug.
Die vragmotorbestuurder en die passasier het later na die plek waar die vragmotor was, teruggekeer, maar dit was weg.
Hulle het die polisie gebel wat begin soek het na die voertuig.
Die vragmotor is later verlate in Vredendal gekry en daar is inligting opgevolg dat die kapers in twee voertuie na Kaapstad gevlug het.
Die polisie het vyf mans omstreeks 21:00 die aand op die pad tussen Citrusdal en Goedeland voorgekeer. Nadat die R16 000 én die vragmotor se sleutels in hul besit gekry is, is Mine Chonde (37), ‘n Malawiër van Khayelitsha, Mathew Mugwara (36) van Milnerton, Lwazi Notuku (34) van Samora Machel in Kaap-
stad, Mofolo Thumba (38), ook ‘n Malawiër van Khayelitsha, en Foster Nyambe (36), ook van Khayelitsha, in hegtenis geneem.
Die vuurwapen en byl wat in die kaping gebruik is, was ook in hul voertuig.
Die sesde verdagte in die saak, Bright Nyamukacha (31) van Khayelitsha, is later in die ander voertuig in Piketberg opgemerk en in hegtenis geneem.
Al ses verdagtes het op Dinsdag 5 Augustus in die Vredendal-landdroshof verskyn.
Volgens die SafetyCloud-blog word vragmotors gekaap omdat die misdadigers dit vir onwettige doeleindes wil gebruik.








