Piketberg kan nie sy trots wegsteek nie – die plaaslike jeugproduksie Route2Roots het die beoordelaars beïndruk en ‘n plek in die topdrie van die departement van sport en kultuur (DCAS) se Dramafees verower.

Hierdie uitsonderlike produksie word nou genooi om sy storie en stem op die Baxter-teater se verhoog in die groot eindronde te deel.

Met ‘n kragtige ensemble van jong spelers van Africa People Impact Initiatives en UNI Youth Theatre, vertel Route2Roots die diep verhale van Piketberg se geskiedenis – van die ou Khoi-krale soos Markuskraal, Goedemanskraal en Septemberskraal tot die geheime van die berg, wat steeds in die wind fluister.

Die tonele, met indrukwekkende visuele simbole soos water, kruie, mos en klip, hou gehore vasgevang in ‘n reis van herinnering, liefde en rou.

Die verhaal bring hulde aan wyle Tyron Zoutman, ‘n kreatiewe krag uit Piketberg, wie se verdwyning en misterieuse dood in die berg as goue draad deur die produksie loop.

Die jong spelers weef sy nalatenskap in elke beweging en woord – en dit het duidelik die beoordelaars se harte geraak.

Die regisseur, kreatiewe span en spelers sê hulle is vasbeslote om die eindronde by die Baxter met dieselfde rou eerlikheid en geesdrif aan te pak: “Dis ons storie; ons wortels – ons gee dit terug aan die wêreld.”

Die gemeenskap word genooi om die jong sterre te ondersteun wanneer hulle Piketberg se stemme en wortels by die Baxter-teater laat weerklink. ‘n Datum vir die eindronde sal binnekort bevestig word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article