Misdaad | Crime
Misdaad | Crime

Bouwerkers wat gister (Woensdag 11 Junie) vroegdag met grondverskuiwingswerk op ‘n bouperseel in Velddrif begin het, moes hul werksaamhede staak toe hulle menslike beendere ontdek het.

Werkers in Laaiplek is besig met voorbereidingswerk om bouwerk aan ‘n gebou te begin, wat ‘n groter apteek sal huisves.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ‘n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, was die polisie se forensiese dienste uit die Kaap nog op pad na die toneel teen die tyd dat die koerant drukkers toe is.

Bouwerkers is vroegoggend verras toe hulle op beendere – vermoedelik menslike oorskot – afgekom toe hulle met werksaamhede op die bouperseel in Laaiplek, Velddrif, afgekom het. Die Weslander-advertensieverteenwoordiger Madelie van Tonder was vinnig op die toneel om dié foto (links) te neem. Die ander foto is ingestuur.

Min inligting is nog oor die beendere bekend.

Van die omstanders meen die menslike beendere moet baie oud wees, aangesien die gebied dekades lank ‘n geteerde parkeerterrein was en vóór dit het daar huise gestaan.

Die gebied is afgesper vir die publiek en die polisie het ‘n wakende oog gehou dat die beendere nie verder versteur word nie.

Dit sal later bekendgemaak word of dit beendere van meer as een mens is.

Indien die beendere oud is, sal die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronagentskap ook betrokke raak om ‘n deeglike forensiese verslag saam te stel.

Dit sal moontlik ook die oorsaak van dood kan uitwys. Ou beendere word van tyd tot tyd in die Weskus ontdek wat onder andere dié van ou seevaarders was.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article