’n Ongelooflike 45 grafte is tot dusver op die bouperseel by die NG kerk Swartland se moedergemeente in Malmesbury ontdek en aangeteken.
Dít volg nadat grondwerk en die bou van die nuwe kerksaal tydelik tot stilstand geroep is toe bouers op nóg grafte onder die grond afgekom het.
Chris Murphy, ’n plaaslike erfeniskonsultant, is in 2020 tydens die beplanning van die ontwikkeling gevra om te help met die nodige permitte, voordat met verdere beplanning voortgegaan kon word.
Die bouplanne is op 31 Desember 2021 goedgekeur nadat ’n permit van Erfenis Wes-Kaap ontvang is.
Die bestuur van die kerk en alle betrokkenes by die voornemende projek het toe alle nodige stappe gedoen sodat die projek vlot kon verloop.
Die kerk is in 1979 tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar. Met die kerkgebou en die muur om die perseel, wat ’n historiese monument is, asook jare oue grafte wat daar geleë is, was fyn beplanning nodig, vertel Denzil Holloway, voorsitter van die bestuur.
Toe die nodige permitte en amptelike goedkeuring verkry is, kon met die historiese aspek van die bouprojek voortgegaan word.
Die argeoloog Jonathan Kaplan, wat as die amptelike verteenwoordiger van Erfenis Wes-Kaap aangestel is, het die bouterrein saam met Murphy en ander betrokkenes aan die begin van Mei 2022 besoek.
Van die eerste stappe wat gedoen is, was om ’n ou boom te verwyder (“Boom, ou grafte vir saal verskuif,” Swartland Gazette, 17 Mei 2022).
Die graf van ene J.P. Coetzer, wat op 10 Januarie 1892 oorlede is, asook dié van sy dogter, Anna M.J.E. van Dyk, wat op 30 November 1897 oorlede is, was aanvanklik op die plek waar die saal tans gebou word.
Anja Huisamen, ’n student-argeoloog onder leiding van Kaplan, is gevra om na die oorledenes se oorskot te soek.
Sy het dié graf, wat deur pa en dogter gedeel word, op 5 Mei 2022 begin opgrawe.
Intussen is noodpermitte by Erfenis Wes-Kaap verkry toe nog grafte ontdek is.
Hoewel ’n radar, wat ondergronds soek, nie enigiets bespeur het nie, het hulle vermoed dat nog grafte in die omgewing gevind sou word.
Bouwerk is tydelik deur Erfenis Wes-Kaap tot halt geroep en ’n openbaredeelnameproses is gevolg voordat noodpermitte uitgereik is om die uitgrawings te doen. Wat volgens Kaplan aanvanklik ’n paar dae sou neem, duur nou reeds drie weke soos wat die bouers op die een graf ná die ander afkom.
“Dit het ons almal verras,” sê Kaplan.
In hierdie stadium vermoed hy die mense is reeds voor 1751, toe die eerste kerk gebou is, daar begrawe.
Teen Woensdag is oorskot uit altesaam 38 grafte verwyder om in ’n later stadium weer iewers op die kerk se perseel begrawe te word. Dit sal tydens ’n spesiale seremonie plaasvind.
“Dit is ons verantwoordelikheid om die mense wat hier begrawe is, te eer,” voeg Kaplan by.
Holloway het bevestig dat bouwerk is intussen weer hervat is. Hy is dit eens dat die ontdekking van die grafte en die navorsing wat gaan volg, van groot waarde is.
Finansiering is intussen deur die kerk toegestaan vir verdere gedetailleerde argiefwerk by die historiese argiewe in Kaapstad, waarvoor Kaplan baie dankbaar is.
“Ons gaan nog navorsing in die argiewe doen om meer uit te vind oor wat voor die kerk se bestaan op die terrein plaasgevind het, asook tydens die bou van die kerke,” sê Huisamen.
So gaan hulle moontlik ook kan vasstel wie die mense was en wat met hulle gebeur het.
Sy sê geen nuwe grafmerkers is sedertdien gevind nie. “Daar was aanvanklik een grafmerker. Hoekom was daar een, maar die res het hulle gelos?” vra sy. Kaplan sê slegs die uitleg van die kiste en geroeste handvatsels het oorgebly nadat die hout deur die jare verrot het.
Huisamen vertel ook van ’n sloot wat teen die muur gevorm het en waarin nog twee grafte ontdek is. Dié grafte, wat nie verwyder hoef te word nie, word op die plek beveilig en in vrede gelaat. Die grafte getuig van verskillende gemeenskapsvlakke en tradisies.
Die oorskot is dié van mans en vroue, insluitend jong volwassenes, kinders, babas, ’n doodgeborene en ’n tweeling. Die oorskot van iemand wat vermoedelik in ’n Khoisan-posisie begrawe is, is ook gekry, terwyl die res in Christelike posisies aangetref is. Een skelet is byna heeltemal volledig, terwyl drie tot vier skelette gedeeltelik volledig is. Die oorblywende grafte het slegs skedels of gedeeltes van beendere.
“Een van die skedels wys trauma deur ’n stomp voorwerp aan die agterkant van die skedel,” sê Kaplan.
Kulturele oorblyfsels soos hout- en porseleinknopies is intussen ook opgegrawe, asook Nederlandse kleipypstele, glas en ’n goue kunsgebit (mondstuk) wat gestempel is. Verdere en groter opgrawings sluit gereedskap in wat uit die Steentydperk dateer.
“Ons is nie honderd persent seker oor enigiets wat ons hier ontdek het nie. Hier is baie onbeantwoorde vrae,” sê Kaplan.
Hy vermoed hulle gaan nog sowat ’n week met opgrawings besig wees.




