Leerling-brandbestryders van die Weskus-distriksmunisipaliteit (WDM) en Swartland-munisipaliteit is tans besig met ’n opleidingsprogram van 27 weke by die Moorreesburg- en Malmesbury-brandweerstasies. Die program sluit teoretiese sowel as praktiese vaardigheidsopleiding in.
Die opleiding het in Mei by WDM se rampbestuursentrum in Moorreesburg begin en 13 brandbestryders sal hul finale assessering by die Stad Kaapstad-brandweerafdeling ondergaan.
Brandbestryders blus nie net brande nie, maar help ook by motorongelukke en ander reddingsoperasies.
“Om ’n professionele en doeltreffende brandweerdiens aan die publiek te lewer, moet brandweerpersoneel voortdurende opleiding ondergaan,” het Bertus Senekal, die WDM se brandweerhoof, gesê.
Die Weskus-distriksmunisipaliteit se brandweer- en reddingsdienste doen ’n beroep op die publiek om te help om brande te voorkom asook om brande spoedig aan te meld deur 022 433 8700 te skakel.





