Terwyl sommige Weskussers bietjie vetjies tydens die Covid-inperking om die lyf gekry het, het Johan Saayman (77) fiks geword en het onlangs 1 000 km in sy Langebaan-oprit te stap.
Saayman het in Junie 2020, tydens die streng inperking, besluit om sy gereelde stappies op die strand tot sy oprit te beperk. Stilsit was nie ’n opsie vir dié oud-timmerman nie.
“Eers was dit 10 rondtes ’n dag, op en af. Daar is ’n redelike bultjie, so jy sal dit gewis voel. Later het ek twee keer per dag begin stap. Sommige dae was dit reënerig en die weer onplesierig, dan het ek die volgende dag net nog ’n paar lengtes by gestap,” vertel hy.
Volgens Saayman se buurmense is hy daagliks in sy oefenbroekie in die 60 m- oprit te sien. Dit was juis een van die buurmense wat Weslander laat weet het Saayman het verlede Dinsdag (20 September) sy 1 000ste kilometer gestap. “Ek het gewis fikser geword en heelwat gewig verloor.”
Aangesien Saayman besig is om sy sig te verloor, kan hy nie meer goed lees en skryf nie, en sy huismaat, Francis Spamer, het begin boekhou van sy stapmeters. Spamer geniet self ook ’n stappie, maar sê sy het nie kans gesien vir die “eentonige” oprit nie. Sy verkies ’n staptog langs die strand en het gereeld 10 km per dag gestap.
Deesdae stap sy meer gereeld saam met Saayman om die blok.
Met sy vlak van fiksheid sal enige atletiekklub sekerlik Saayman met ope arms welkom, maar hy sê ná sy onlangse prestasie neem hy vir eers ’n ruskans. Dit blyk egter dit sal nie lank wees voordat hy weer sy stapskoene aantrek nie.



