Yusuf Maart is in die finale groep van 23 spelers wat Bafana Bafana vir die wêreldbeker volgende jaar moet laat kwalifiseer.


Yusuf “Yussi” Maart se vertoning in die Cosafa-beker vroeër in Gqeberha het gewis nie ongesiens by die sokkerbase verbygegaan nie. Hugo Broos, die Bafana Bafana-afrigter, het dié belowende jong middelveldspeler in die finale groep van 23 spelers vir hul kwalifiserende wedstryde vir die 2022-Fifa-wêreldbeker ingesluit.

Bafana Bafana pak Zimbabwe in Harare op 3 September, gevolg deur Ghana drie dae later in die FNB-stadion. Maart het die finale groep gehaal nadat hy deel was van die eerste voorlopige groep van 31 spelers wat Broos aangekondig het.

Broos het met sy aanstelling aangedui dat hy sy net wyer gaan span om net die beste spelers te kry om vir die wêreldbekertoernooi volgende jaar in Katar te kwalifiseer.

Maart, wat in die strate van Avondale sokker leer speel het, is reeds op ’n vroeë ouderdom bestem vir groter stadions toe Orlando Pirates hom op 19-jarige ouderdom gewerf het. Yussi het ook vir verskeie plaaslike klubs gespeel en is tans besig om die een droom ná die ander te bewaarheid. Met twee drome reeds bewaarheid (om op TV te speel en om vir Bafana Bafana te speel) bly nog net een oor, en dit is om oorsee te speel, het dié kranige sokkerspeler vroeër aan WeskusNuus gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article