Hy het sy sokker as kind in die strate van die “scheme” gespeel en Maandag 28 Junie het Moegamat Yusuf Maart (26) vir sy land op die veld uitgedraf.
Yussi, soos hy alom bekend staan, is nou ’n Bafana Bafana-speler en deel van die span wat tans aan die Cosafa-beker deelneem.
Dié toernooi vind in Gqeberha (Port Elizabeth) plaas.
“Dit was een van my drome om Suid-Afrika te verteenwoordig,” het die kranige middelveldspeler aan Weskus Nuus vertel.
Yussi het Maandag in sy eerste wedstryd slegs net sowat 10 minute speelkans gekry, maar die speler sê dit was genoeg om hom sprakeloos te laat. Gevra hoe die oomblik gevoel het, kon Yussi net eenvoudig sê “Wow!”.
Bafana Bafana het die wedstryd teen Botswana 1-0 gewen en ook sy kanse lewendig gehou om die uitspeelronde te haal. Yussi vertel opgewonde dat sy sokkertalent baie in Atlantis ontwikkel is voordat hy uiteindelik deur groter klubs opgeraap is. Hy was deel van verskillende plaaslike klubs en was ’n leenspeler vir Jomos Power voordat die Suid-Afrikaanse kampioenklub Orlando Pirates hom as 20-jarige opgeraap het.
“Dit was eenvoudig ’n geleentheid wat ek nie verby kon laat gaan nie, aangesien een van my drome ook was om op televisie sokker te speel. Die tyd by Pirates was eenvoudig wonderlik en het my talent verder ontwikkel,” sê hy.
Yussi was die afgelope seisoen by Sekhukhune United waar hy in die PSL- eersteliga-afdeling gespeel het. “Ons het egter die liga gewen en speel volgende seisoen in die premierliga. Harde werk lê nou voor aangesien ek die geleentheid met beide hande wil aangryp om in die beginspan te wees,” vertel hy opgewonde. “Vir nou is ek net dankbaar dat ek in die groep van 20 spelers vir die toernooi is.”
Suid-Afrika het Donderdag (8 Julie) teen Eswatini gespeel en weer 1-0 gewen.
Yussi sê hy is gereed vir die werk wat nou verlê aangesien sy volgende doelwit is om oorsee te gaan speel.
“Ek sal as ’n Chelsea-ondersteuner graag op Stamford Bridge wil speel, maar omdat ek net my beste wil gee, gee ek nie om waar ek oorsee speel nie. Vir eers fokus ek op die toernooi en daarna wil ek net my beste vir my klub gee.”
Yussi het sy familie, vriende en almal in Atlantis kort ná sy eerste wedstryd op sy Facebookblad bedank vir hul ondersteuning en sê hy is trots om ’n seun van Atlantis te wees.


