Young Hearts het Saterdag sy kanse vir die uitspeelwedstryde lewendig gehou toe die span van Ruben Abels die omgekrapte Langebaan in dié se agterplaas getroef het.
Young Hearts is die enigste van twee wat nog onoorwonne in die tweede ronde is en het ook sy derde oorwinning behaal. Die span het die wedstryd in winderige, koue nat toestande reeds in die eerste helfte beklink toe die span gaan water drink het met die telling 8-0. Young Hearts het die toestande die beste benut, maar selfs met ’n oorvloed balbesit en gebiedsvoordeel het die besoekers ook kanse deur sy nat vingers laat glip.
Die tuisspan het in die tweede helfte beter gespeel en by die speeltoestande aangepas. Langebaan, wat die meeste van die gebiedsvoordeel in die tweede helfte geniet het, is egter met rotsvaste verdediging op die agtervoet gehou. Die tuisspan het ná volgehoue druk en meer as 15 fases binne bereik van die besoekers se doellyn die damwal gebreek vir ’n onverdoelde drie, wat sy agterstand tot drie punte laat krimp het.
Met beide spanne wat die bal in die toestande lug gegee het, het aanskoulike bewegings skipbreuk gely met besit wat verlore gaan.
Young Hearts se dissipline het ook ’n groot rol in die span se oorwinning gespeel – veral in die laaste 10 minute, toe die tuisspan verwoed aangeval het. Abels se troepe het egter vasgebyt.
Young Hearts wil sy onoorwonne rekord die naweek in die tweede ronde voortsit wanneer hy ’n omgekrapte Vredenburg op die grafkelder pak.
Mamre het ook ’n goeie weg-oorwinning behaal toe die groen truie Piketberg 10-5 getroef het.
Ander uitslae in die Weskus-streek is: Saldanha 6-8 St. Helena; Vredenburg 52-0 Paternoster; en Velddrif 7-10 Hopefield. Die naweek speel Mamré t. Langebaan, Paternoster t. Saldanha, Hopefield t. St. Helena en Piketberg t. Velddrif. . Hamlets het Saterdag ’n goeie bonuspuntoorwinning van 26-13 oor Kuilsrivier behaal.




