Atlantis het Saterdag wel met 3-95 teen Young Hearts op die grafkelder vasgeval, maar dié span het hope karakter en veggees getoon.
Die span van Shannon Mahoney het eerste bloed geruik met ’n strafskop in die eerste paar minute, maar het daarna niks antwoorde vir die tuisspan se vrae gehad. Atlantis, wat vir die eerste keer in jare weer drie spanne en ’n o.20-span in die veld kan stoot, sê hy het geen verskoning na dié rugbyles nie en die spelers is opgewonde vir die seisoen wat voorlê. Reuben Abels se troepe het reeds vroeg gewys dat seuns van die manne geskei moet word toe die span rustyd met 50-3 voor was.
Atlantis wat gereeld in die tuisspan se doelgebied gespeel het, kon egter nooit die bal beheer nie en die tuisspan het gereeld munt daaruit geslaan. Atlantis, wat dié seisoen onder ’n nuwe bestuurs- en afrigtingskorps speel, kan egter net homself blameer vir die verloor aangesien hy hope balbesit en gebiedsvoordeel geniet het net om die bal te verloor of kosbare besit weg te skop. Young Hearts se aanvallende agterlyn met Aldo Booysen, Barry Adonis en Jade Solomons het die besoekers telkemale bewys om nie kosbare besit te mors nie met teenaanvalle wat gereeld op punte uitgeloop het. Die tuisspan het 15 drieë in sy sege gedruk.





