Die Covid-19-pandemie het omtrent alle sport tot stilstand gedwing en Weskus Nuus sal vir die volgende paar uitgawes op verskillende plaaslike sportklubs fokus.
Van Pella-sportklub tot Young Hearts
Ons skop hierdie week af met die Young Hearts-rugbyklub van Pella. Dié klub is op 25 Maart 1993 gestig en was voorheen bekend as Pella-sportklub.
Pella speel van sy beginjare as Young Hearts in Boland-klubrugby se eerste liga en is in 2013 tot die Boland-streekuitdaagkompetisie bevorder en het byna elke jaar in die Boland-top-12 geëindig.
In 2018 word die klub tot die Grootuitdaagkompetisie van Boland bevorder – waarin die bestes in Boland meeding. Dié klub speel teen gevestigde en ervare spanne en eindig daardie jaar tweede naas Saldanha. Young Hearts is daardie jaar ook die enigste span wat Saldanha vir die eerste keer in vier jaar in Boland se Weskus-streek kon klop. Die span se beste seisoen was toe hy in 2018 die kwarteindronde gehaal het en teen Wesbank op Pella verloor het. Wat 2018 ’n besonderse jaar vir die klub gemaak het, is die feit dat Young Hearts die minste spelers in die kompetisie gehad het.
Vroue aan die stuur van sake
Wat dié klub uniek maak, is dat hy vir etlike jare deur vroue op bestuursvlak gelei is.
Die klub se leuse, “volhard en oorwin”, is gepas aangesien hy die vele uitdagings wat oor sy pad gekom het, oorkom het.
“Met ’n gebrekkige infrastruktuur het die klub steeds bo sy omstandighede uitgestyg,” sê die hoofafrigter, Reuben Abels.
Verskeie spelers het oor die jare die klub verteenwoordig en hulle op verskillende vlakke laat geld. Bernard Snell, Barry Adons, Raoul Stubbs en Jade Solomons-Kavas het almal vir die Boland se o.20-span uitgedraf.
Abel sê hy wil ook graag erkenning gee aan spelers en leiers wat bygedra het tot die klub se vooruitgang.
Young Hearts het in die verlede gewys dat menige span wat op die grafkelder kom meeding nie as oorwinnaars daar kon wegstap nie.
“Hier word gespeel tot die kis sak en groot spanne is reeds hiér begrawe,” meen Abels.
“Met een van die opwindendste agterlyne in die streek sal dié span weer met spoed en rotsvaste verdediging op verlede seisoen se vertoning en spelpeil wil verbeter,” sluit Abels af.



