Young Hearts se losskakel, Aldo Booysen, breek die verdedigingslinie van Koringberg op die Grafkelder vir een van die span se 13 drieë Foto: Murphy Roberts


Rugby in Weskus Nuus-land is gesond.

Met drie van die vier spanne wat die naweek in aksie was, was dit drie uit drie, waarvan twee wegwedstryde was.

Young Hearts het Koringberg op die Grafkelder ’n rugbyles geleer en die eenrigtingwedstryd 87-10 gewen. Die span van Ruben Abels, wat rustyd reeds 49-3 voor was, het behoorlik met die besoekers gemaak net wat hulle wou. Die oorwinning is ook een van die grootstes in die Weskus-streek en het die span van die Grafkelder in die vierde plek op die punteleer gelaat.

Met nog een wedstryd oor in die eerste ronde het Saldanha, wat voor is, reeds sy eersterondeverpligtinge voltooi.

Koringberg kon net teen die einde van die eerste helfte ’n strafskop behaal en het die tweede helfte sterk begin met ’n verdoelde drie. Daarna het die tuisspan die krane behoorlik oopgedraai.

Met die bonuspunt reeds in die 20ste minuut van die wedstryd verseker, het die tuisspan se vlugvoetige agterlyn eenvoudig baljaar danksy die vinnige balbesit wat die voorspelers telkens opgedis het.

Young Hearts reis Saterdag na Langebaan en ’n oorwinning kan hul posisie net verder versterk.

Mamre het Vredenburg se Burg Boys in dié se agterplaas met 33-17 getroef en beklee die derde plek op die punteleer – een punt agter Paternoster.

Die laaste wedstryd van dié ronde sal bepaal wie ná die eerste ronde in die tweede plek sal eindig.

Mamre onthaal ’n omgekrapte St. Helenabaai, wat Saterdag teen die Boland-kampioen in die Agterbaai vasgeval het. Die groen truie van Kenny Stadler behoort goeie rekenskap van hulself te kan gee.

Die Atlantis-rugbyklub is steeds onoorwonne in die Westelike Provinsie- suidelike liga. Atlantis het Saterdag Lagunya 24-48 in ’n wegwedstryd geklop en ook sy onoorwonne rekord behou. Atlantis het nou drie tuiswedstryde oor, waarna die uitkloprondes begin, en sal nou eers ’n blaaskans neem voordat hy Youngstars van Groenpunt pak.

Volledige uitslae:

Weskus:

Paternoster 40-34 Langebaan; Young Hearts 87-10 Koringberg; Hopefield 10-41 Piketberg; St. Helena 31-36 Saldanha; Vredenburg 17-33 Mamre

Swartland:

Porterville 31-34 Saron; Darling 59-21 Riebeeck United; Never Despairs 30-29 Goodhopes; Abbotsdale 26-25 Wesbank.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article