Darren Davids, vleuel van Atlantis-rugbyklub, druk hier sy span se tweede drie teen Manenberg Rangers in ’n Super C-wedstryd op Proteapark.Foto:


Manenberg Rangers en Atlantis-rugbyklub speel al amper twee dekades lank teen mekaar, en die stryd tussen dié twee spanne is altyd kliphard op die rugbyveld.

Manenberg Rangers, wat vier ligapunte voor Atlantis in die Superliga-C-afdeling van WP Rugbyunie is, het gehoop hulle sou Atlantis Saterdag 1 Junie op die Proteapark-sportterrein (Huis van Pyn) verslaan, maar hulle is gou deur die tuisspan ontnugter.

Met ’n uitgeslape Boelie Solomons, Franco Johannes en Fabian Brandt kon Rangers nie aan die nuwe manier van Atlantis se rugbystyl gewoond raak nie en wonder seker nog wat hom getref het.

Hoewel Manenberg Rangers Atlantis verras het toe hulle in die 17de minuut die voortou met ’n drie in die regterhoek vir 5-0 geneem het, was dit hul enigste punte van die eerste helfte. Hulle kon egter net twee keer punte in die tweede helfte aanteken– in die derde minuut (strafdoel) en 39ste (’n drie) teen Atlantis.

LEES: Kampioen wys sy staal

Atlantis het Rangers met brute krag in ’n vaste skrum in hul eie halfgebied opgekeil, wat hulle ’n eerste poging pale toe gegee het, waarmee Pedren Dido misluk het. Drie minute later het Dido seker gemaak hy voeg drie punte op die telbord by vir ’n agterstand van 3-5.

Goeie spel deur Siphelo Sanyinji en sy spanmaats het tot Atlantis se eerste drie gelei, wat deur die kaptein, Veranzo Pipers, met ’n duikslag onder die pale afgerond is. Dido se doelskop was in die kol, en Atlantis het 10-5 voorgeloop.

Rangers se losskakel het Levandré Hoorn met ’n tweede hoëlugskop gepeper nadat hy die eerste een van hom gemis het en gehoop dit gebeur weer, maar hy het dit uitstekend bemeester. Hoorn het met ’n teenaanval begin en weggebreek, en toe die vleuel Darren Davids gevoer, wat onder die pale met ’n pragtige duikslag afgerond het. Hoorn se doelskop was oor en Atlantis was 17-5 voor.

Onnodige foute en ’n geelkaart het Rangers egter met aanvallende spel in die prentjie gehou, maar Atlantis se verdediging was rotsvas.

Hoewel Rangers hard probeer het om Atlantis se geelkaart-situasie uit te buit, kon hulle nie in dié tyd Atlantis se doellyn oorsteek nie. Te veel hanteerfoute agterlangs is vermors en die agterlyn-afrigter Franco Johannes sal gewis die manne gom gee in die komende week op die oefenveld. Atlantis het die telling net voor rustyd 20-5 gemaak toe Dido ’n strafdoel behaal het.

Nadat beide afrigters tydens rustyd harde woorde met die spelers gedeel het, het Rangers ná net drie minute in die tweede helfte ’n strafdoel oorgeklits om die agterstand tot 8-20 te laat krimp. ’n Onderskepbal het gelei tot Darren Davids se drie onder Rangers se pale, wat deur Hoorn verdoel is (telling 27-8).

Met ’n aanvallende heelagter en senterpaar, sowel as twee haastige vleuels in Roshco Booysen en Darren Davids, het hulle ondersteuners opgewonde gemaak.

Rangers kon eers in die 39ste minuut van die tweede hefte sy tweede drie langs die pale druk, terwyl Atlantis 33 punte in die tweede helfte aangeteken het.

Atlantis se agterspelers het ses van die span se sewe drieë gedruk danksy uitstekende werk deur die voorspelers en veral die lostrio Danian Munro (linkerflank), Randall Davids (regterflank) en Siphelo Sanyinji (agtsteman) het barshoue gespeel. Die wegholsege van 53-17 is ’n waarskuwing aan ander spanne om kennis te neem.

Driedrukkers: Jerome Claasen (1), Roshco Booysen (1), Veranzo Pipers (2), Darren Davids (1), Levandré Hoorn (1), Quinton October. Strafskoppe: Pedren Dido (1), Levandré Hoorn (1) Doelskoppe: Pedren Dido (1), Levandré Hoorn (5)

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article