Die Westelike Provinsie-rugbyunie het besluit om klubrugbywedstryde wat die naweek en in die nabye toekoms sou plaasvind, uit te stel.
In ’n brief aan klubs skryf Faizel Felton, senior bestuurder vir klubrugby, dat die unie besluit het om wedstryde af te gelas aangesien ’n nuwe vlaag Covid-19-infeksies die Wes-Kaap getref het.
“Klubs moet kennis dra dat ons nou in vlak 4 is, en ons wil versoek aan klubs rig om veilig te wees en verantwoordelik op te tree deur die nodige riglyne in Saru (Suid-Afrikaanse Rugbyunie) se oefening-riglyne te volg.
“Vir klubs wat met oefeninge wil voortgaan, sal net in fase een van die terugkeer tot oefening toegelaat word. Dit beteken geen kontakoefening tot en met 1 Julie nie, waarna ons die situasie sal hersien voordat na fase twee oorgeskakel word.”
Felton sê: “Ná die president se toespraak Dinsdag 15 Junie neem ons kennis dat amateursport kan voortgaan onder die aangepaste regulasies. Daarom sal ons oefeninge laat voortgaan, afhangend van verandering vanaf die regering.”
Boland-rugbyunie het klubs ook in ’n omsendbrief meegedeel dat die Boland- o.20-proewe en alle vriendskaplike wedstryde gekanselleer moet word. Met die regering se aankondiging Sondag 27 Junie dat die land na vlak 4 beweeg, is alle munisipale sportgeriewe gesluit.
Klubs wag angstig oor wat nou gaan gebeur en of hulle tydens vlak 4 sal kan oefen.

