Inwoners van Coral Place in Avondale sê hulle is keelvol vir die gemors wat by die woonstelblok lê.
Volgens een van die inwoners, Margaret Davids, lyk die plek daagliks soos ’n vullishoop en niemand weet wie dit moet skoonmaak nie.
“Die vullishokke was in die verlede gereeld skoongemaak, maar die afgelope paar weke wil niemand verantwoordelikheid daarvoor neem nie,” vertel Davids. “Ons kinders speel daagliks in die rioolwater en dit hou ’n gesondheidsrisiko vir die kinders in,” meen sy.
Davids vertel sy het die kwessie by Allister Lightburn, proporsionele raadslid, aangemeld aangesien sy nêrens antwoorde kon kry.
Volgens Lightburn het hy die kwessie onder die aandag van die nodige amptenare gebring en personeel gaan binnekort aangestel word om na die skoonmaak van dié gebied om te sien.
Davids sê sy sal maar geduldig wag om te sien of dit wel gaan gebeur.


