Nat en winderige toestande het dalk bygedra, maar die wil om te wen het ontbreek nadat Mamre Saterdag op sy tuisveld ’n gulde geleentheid deur sy nat vingers laat glip het om die verdedigende Boland-kampioen, Saldanha, in Mamre te klop.
Saldanha het die modderige wedstryd 22-13 gewen nadat hy rustyd 12-6 voor was. Mamre, wat in die eerste helfte met die wind van agter meer in sy eie gebied gespeel het, kon nie die wind tot sy voordeel gebruik nie. Die besoekers het twee drieë gedruk, waarvan een reeds vroeg in die wedstryd (’n onverdoelde drie) was.
Die groen truie het die min kanse wat hulle in die eerste helfte gekry het, verbrou en die span het ook hopeloos te veel besit in die lynstane afgestaan.
Mamre het oor die slaankrag beskik, maar die wil het heeltemal ontbreek. Die span het vroeg in die tweede helfte ’n verdoelde drie aangeteken en ook vir ’n wyle sy neus voor gekry toe hy 13-12 voor was. Die span het egter daarna die een fout ná die ander gemaak en Saldanha het later gewys waarom hy tans die verdedigende Boland-kampioen is deur nog twee drieë te behaal en ’n bonuspunt-oorwinning aangeteken het.
Mamre sal gewis op sy beste moet wees wanneer hy Velddrif Saterdag in dié se agterplaas pak. Young Hearts het Velddrif se kis op die grafkelder laat sak toe die tuisspan die besoekers 20-13 geklop het om sy uitspeelkanse lewendig te hou.
Ruben Abels en sy troepe speel Saterdag gasheer vir Hopefield, wat op enige dag ’n span kan verras. . Hamlets het Saterdag ’n goeie weg-oorwinning in sy WP Superliga A-stryd behaal toe die span van Gavin Passens 32-21 teen SK-Walmers gewen het.
Atlantis het op sy tuisveld ook ’n oortuigende oorwinning – 46-5 – oor Thistles behaal om sy kanse op uitspeel lewendig te hou.


