Aanvalle op die polisie is besig om handuit te ruk.
Só sê die Atlantis-polisie se stasiebevelvoerder, kol. Mario Thyse.
Thyse sê die polisie het Saterdagaand weer in die Dura Flatse deurgeloop net omdat die polisie hul werk moes doen.
Volgens die kolonel moes die polisie se eenheid teen openbare geweld ingeroep word. “Hierdie barbaarse houdings moet nou stop,” het die stasiebevelvoerder stoom afgeblaas. Volgens Thyse het twee bendegroepe lede van ’n derde bendegroep se huis aangeval en ’n oor-en-weer-skietery het uitgebreek.
“Met die polisie se aankoms in Buntingsingel in Robinvale het alle hel losgebars,” sê Thyse.
“Lede is met klippe en bottels bestook en het met rubberkoeëls geantwoord. Dié wetteloosheid kan nie langer geduld word nie. Sewe mense is in hegtenis geneem,” bevestig Thyse.
Volgens Thyse het die drama begin nadat verskeie skietvoorvalle die vorige paar dae voorgekom het. Verskeie klagtes van poging tot moord word in hierdie band ondersoek. “Hoewel die polisie goeie samewerking in sekere dele van Atlantis kry, moet inwoners besef dat die polisie ’n mandaat het om reg en orde te handhaaf,” sê hy.
Volgens ’n betroubare bron is dit ’n “oorlog wat nie gou gaan stop nie”. Die bron het verduidelik dat verskeie bendes tans nou die gebied wil oorneem, waarvan twee nou saam die ander wil uitwis.
Volgens Thyse speel ’n soortgelyke situasie hom in Sherwoodpark en in uitbreiding 12 af – veral nadat ’n bekende bendebaas hom in Kanonkop gaan vestig het. Met die nuwe huise wat binnekort daar gebou gaan word, het bendeleiers reeds die gebied geteiken as nuwe “turf”, het hy verduidelik.
Die situasie in Dura was die hele naweek gespanne en die polisie het ’n wakende oog oor die gebied gehou.





