Inwoners van Witsand het Saterdag 3 Oktober ingange na die gebied versper nadat wetstoepassers hul strukture afgebreek het.Foto: Murphy Roberts


Inwoners van Witsand het Saterdag 3 Oktober besluit hulle is moeg om vir behuising te wag en het besluit om op ongebruikte grond te plak.

Dié groep het hul egter teen ’n sterk polisie- en wetstoepassersgroep vasgeloop wat die besetting in sy spore gestuit het.

“Ons is moeg vir die omstandighede waarin ons bly,” het die groep aan Weskus Nuus gesê.

Dié groep van ongeveer 300 mense, het reeds vroeg hul lappies grond gaan eien. Wetstoepassers het egter die groep se planne in die wiele gery en soos strukture opgerig is, was dit weer afgebreek en die mense is gevra om uiteen te gaan en hulle het later handdoek ingegooi toe die strukture afgebreek word.

Inwoners het egter ingange na die gebied met brandende bande versper terwyl die polisie ’n wakende oog hou. Volgens kapt. Liza Munro, Atlantis-polisiewoordvoerder, is niemand tydens die betoging beseer nie en niemand is in hegtenis geneem nie.

Inwoners van die gebied – waarvan die meeste in mense se agterplase woon – sê hulle gaan beslis weer probeer.

Volgens gemeenskapsleiers in die gebied is gerugte onwaar dat busse vol mense aangery is om hier te kom plak. Sosiale media het die betrokke oggend behoorlik gegons dat mense uit ander gebiede aangery is.

Volgens die leiers is dit die plaaslike agterplaasbewoners wat besluit het hulle het genoeg gehad.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article