“Ek het nog nooit so baie polisiemanne en wetstoepassers op een tyd hier gesien nie!”
Só sê Cornelia Logenstein (57) van Saxon Sea.
“Ons hoop en vertrou die stilte van die afgelope tyd sal nou voortduur omdat dit by tye hier soos die wilde weste klink!”
Wetstoepassers het die gebied Vrydag 3 Februarie saam met die Wes-Kaapse LUR vir veiligheid en polisie-oorsig, Reagen Allen, en die burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, JP Smith, ingevaar. Die doel van die interaksie met die gemeenskap was om inwoners bewus te maak om misdaad aan te meld.
Die gebied het onlangs gebuk gegaan onder verskeie skietvoorvalle, wat inwoners woedend gelaat het.
Volgens die wyksraadslid Allister Lightburn het die interaksie ook inwoners die geleentheid gebied om met die polisie te kommunikeer en inwoners bewus te maak dat hulpbronne wel bestaan om misdaad vas te vat. “Dit is een van die gebiede in my wyk wat baie onder bendegeweld gebuk gaan, maar inwoners het ook teen die geweld opgestaan,” verduidelik Lightburn.
Volgens kol. Cyril Nkuna, die plaaslike stasiebevelvoerder, het misdaad verminder nadat ekstra hulpbronne sedert 2021 ontplooi is.
“Minder moord- en poging tot moord-klagtes is aangemeld. Die vennootskap tussen die SAPD en wetstoepassers van die Kaapse metro het ’n positiewe uitwerking en meer vuurwapens word teruggekry. Ons kan egter nie nou die pas verslap nie omdat baie nog gedoen moet word.”
Die LUR sê die minder moorde word verwelkom, maar hy is steeds bekommerd oor die verkragtings getalle hier. Volgens Allen het verkragtings in die laaste kwartaal met byna 60% gestyg terwyl moord met 25% gedaal het.
Volgens JP Smith het Atlantis byna 100 bykomende wetstoepassers gekry sedert die LEAP-program begin het. Hy sê egter namate misdaad verminder, word lede na ander gebiede geplaas waar misdaad hoogty vier.
Die groep het ná die interaksie met die gemeenskap ’n padblokkade in die gebied opgestel waar 42 voertuie voorgekeer is en boetes van altesaam R20 000 uitgereik is. Een verdagte is in hegtenis geneem.




