Weskus Nuus, wat die plaaslike gemeenskap sedert 1984 dien, vier vanjaar sy 40ste bestaansjaar met trots.
Die koerant het oor die jare sy naam gestand gedoen as die spreekbuis van die gemeenskap en is die enigste koerant in die verspreidingsgebied wat alle aspekte inhoudsgewys dek en ook die uitdagings en glorie van die gemeenskap blootlê.
Sedert die koerant se ontstaan, was daar verskeie ander publikasies wat gekom en gegaan het. Weskus Nuus het egter vir relevante beriggewing gesorg en uiteindelik die keuse van die gemeenskap geword.
Om die groot mylpaal te vier, beplan Weskus Nuus ’n spesiale verjaarsdaguitgawe op Dinsdag 26 November.
Lesers word genooi om hul gunstelingstories of oud-koerantuitknipsels van noemenswaardige gebeurtenisse wat oor die afgelope 40 jaar in die gemeenskapskoerant verskyn het, te stuur na maryke.swart@media24.com of per WhatsApp by 067 091 0618.
Kliënte wat graag in die verjaarsdaguitgawe wil adverteer of self hul 40ste bestaansjaar vier, kan ’n e-pos-boodskap met hul detail na Madelie.vanTonder@ weskusmedia.com vir ons spesiale verjaarsdagtariewe stuur. Die spertyd vir besprekings is Maandag 8 November voor 16:00.

