Werkers van Hisense in Atlantis sê hulle trek swaar weens die bestuur se gulsig­heid en kan dalk binnekort op die straat sit.

Werkers van dié fabriek wat televisies en yskaste vervaardig, en op voorwaarde van anonimi­teit met Weskus Nuus gepraat het, vertel permanente werkers is reeds sedert Februarie op verkorte werksure. Werkers het ook op Radio Atlantis hul onge­luk­kigheid teenoor die maatskap­py uitgespreek en vertel dat hulle sedert die instelling van verkorte werksure, verskillende redes kry waarom hulle nog nie kan terugkeer na normale werksure nie en dus ook nie vergoed word nie. Werkers het ook aan Weskus Nuus vertel dat hul unieNumsa, nie juis veel doen om die krisis op te los nie. Vrydag het verteenwoordigers van die departement van arbeid en Linda Moss, die ANC-lid van parlement, die fabriek besoek. Volgens die proporsionele raadslid van Atlantis, Fiona Abrahams, het werkers sowat ’n week gelede by haar om hulp aangeklop en het sy het onmid­dellik versterkings ingeroep en was ook deel van die afvaardiging wat met die Hisense-bestuur en unie-verteenwoordigers vergader het. Moss het voor die vergadering gesê “iets is nie reg nie.” Volgens Moss sal die regerings­departemente moet kom onder­soek by Hisense instel.

Volgens Abrahams het die vergadering langer as ses ure geduur en die bestuur ingestem dat werkers Maandag (gister) na normaal kan terugkeer. Deel van die ooreenkoms is ook dat daar nie dissiplinêre stappe teen die stakende werkers gaan wees nie. Die partye het ook ooreengekom dat ’n deel van die uitstaande lone aan werkers betaal sal word en dat die arbeidsdepartement die aansoek vir vergoeding weens verkorte ure prioriteit sal gee. Van die werkers het ook aan Weskus Nuus genoem dat die Suid-Afrikaanse Inkomste­diens (SAID) op van die maat­skappy se vraghouers beslag gelê het. Volgens die maatskappy het hulle “niks verkeerd gedoen nie en het SAID oorreageer.” By navraag het die SAID gesê hy kan nie inligting oor sy klante aan die media bekend maak nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article