Meer as 1 000 inwoners en werkers het na Hisense opgeruk om stakende werkers te ondersteun.Foto: Nico Waggenstroom


Werkers van Hisense is ná ’n staking van drie weke weer terug by die werk.

Volgens Alfredo Smit, orga­niseerder van die Nasionale Unie van Metaalwerkers van Suid-Afrika (Numsa), is ’n ooreenkoms Woensdag 5 Febru­arie bereik nadat base nie bereid was om met die unie of werkers te praat nie.

Volgens Smith kon werkers nie al die eise kry nie, maar is hulle tevrede met die 7%-verhoging vir twee jaar. Hy sê die verhoging is terugwerkend wat beteken werkers sal be­taal word vir die tyd wat hulle gestaak het.

Werkers sal ook ’n verdere drie dae verlof bykry en Hisense moet ook ’n verpligte bonus van 40% betaal terwyl die res van die bonus uit ander komponente soos bywoning en gehalte bestaan.

Meer as 1 200 werkers en inwoners het Dinsdag 28 Janu­arie in ’n optog na die fabriek gewys hulle is ernstig oor hul eise terwyl die Hisense-bestuur geweier het om die werkers se memorandum in ontvangs te neem.

Volgens Smit het Hisense se bestuur sedert die begin van die staking nie ’n enkele poging aangewend om “die probleem op te los nie”. Smit sê die bestuur het eerder tydelike werkers gekry om werk te laat voortgaan.

Hy sê voorts as werkers onder “normale omstandig­hede” verhogings eis, sal base met ’n teenvoorstel kom en onderhandelinge sal dan begin waarna ’n ooreenkoms bereik sal word.

In daardie stadium het Hisense egter teruggekap in ’n verklaring en gesê Numsa wil die fabriek se bedrywighede stop wat tot werksverlies kan lei. Hisense was ook van mening dat die oorspronklike eis van ’n 15%-verhoging onredelik is en tot afdankings sou lei.

Die departement van handel en nywerheid het ingegryp en almal bymekaar gekry waarna ’n ooreenkoms bereik is.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article