Terwyl die gevreesde Covid-19-pandemie soos ’n veldbrand in die Wes-Kaap versprei, dink werkgewers net aan hul sakke, of so meen werkers in Atlantis.
Die meeste fabrieke in Atlantis het Maandag 4 Mei produksie hervat en die werkers vrees dat hulle nou meer as ooit vatbaar vir dié virus sal wees.
Werkers van Peries Foods, wat hoender verwerk en verpak en net buite Atlantis geleë is, het behoorlik gal gebraak nadat drie van hul kollegas positief vir die virus getoets is. Dié getal het glo binne twee dae tot nege mense gegroei.
“Die base gee eenvoudig nie om vir ons veiligheid nie,” het ongeveer 50 werkers aan Weskus Nuus gesê.
Die groep weier om terug te keer na die fabriek totdat die departement van gesondheid nie die plek veilig verklaar het nie. Hulle eis ook dat al die werkers getoets moet word en daagliks gesif word.
’n Werker wat nie genoem wil word nie uit vrees dat sy haar werk kan verloor, vertel: “Toe ons van die eerste geval hoor het, het almal begin panic. Ons het uitgestap, maar moes toe by ’n toesighouer hoor dat die werk moet aangaan, want die hoender gaan nie hulself verpak nie. Ons is eers twee dae ná die eerste voorval huis toe gestuur sodat die fabriek ontsmet kan word,” vertel sy.
Die vrou sê omtrent almal het kontak met die vrou gehad wat positief getoets is en was skaars ’n dag by die werk toe hoor hulle van die tweede geval. ’n Derde persoon is Dinsdag 5 Mei ook positief getoets.
Volgens Basie van Wyk, uitvoerende hoof van Peries Foods, het hulle alle moontlike protokol gevolg en het bevestig die fabriek is ontsmet.
Hy sê ook, volgens sy kennis, is daar twee positiewe gevalle en dra hy nie kennis van die derde geval nie. “Ons is daagliks met die gesondheidsdepartement in kontak en gerugte dat bestuur nie omgee nie, is van alle waarheid ontbloot,” het Van Wyk bygevoeg. Volgens Natalie Watlington, woordvoerder van die departement van gesondheid, is hulle bewus van die voorval en het amptenare die persele besoek om werkers bewus te maak van die simptome.



