“Dit het gelyk soos tonele uit die Soweto-opstand op 16 Junie 1976 toe skoolkinders teen die destydse apartheidsregering in opstand gekom het, en die polisie moet gewis kyk na derdemagbedrywighede van Atlantis se gemeenskapsleiers wat die gebied polities onregeerbaar wil maak.”
Só sê Peter Gomez, gemeenskapsleier van Avondale, wat teleurgestel is dat organisasies met ’n verskuilde politieke agenda inwoners mislei en vir eie gewin gebruik het. “Ek is teleurgesteld dat ek toegelaat het dat ons mense so misbruik word,” meen hy.
Die drama het Dinsdagaand (9 Februarie) ontvou toe “misleide” inwoners van Avondale en Saxonsea die strate ingevaar het oor behuising. Inwoners het ’n stuk grond op die hoek van Grosvenorlaan en Reygersdal-rylaan vir huise geëien.
Volgens Gomez is agterplaasbewoners ’n groot probleem in dié gebied, omdat mense reeds jare op die regering se behuisingswaglys is. Hy vertel sommige het tot grondbesetting oorgegaan nadat inwoners van Witsand ook onlangs grond beset het. “Ons is nie rassisties nie, maar as Witsand dit kan regkry, kan ons mos ook,” sê Gomez. Hy sê Avondale- en Saxonsea-inwoners het moeilik geraak toe Kaapstadse wetstoepassers strukture begin afbreek en dit ’n plofbare situasie geword het.
Inwoners het strate in die buurt met brandende motorbande versper en wetstoepassers is met klippe bestook. Dié inwoners meen die beamptes moet liewer “Witsand se hokkies ook gaan afbreek”.
Volgens ’n gemeenskapswerker, wat nie geïdentifiseer wou word nie, het Atlantis groter probleme as behuising. Die werkloosheidsyfer is meer as 50%, dwelmhuise spring soos paddastoele op terwyl bendegeweld ook in die gebied hoogty vier – mense het egter besef grond is belangriker, vertel hy.
“Ja, ons makeer huise, maar werk en ’n inkomste kan bydra tot beter omstandighede vir ons mense,” sê hy. Dié inwoner sê inwoners word mislei deur ander se verskuilde agendas.
Inwoners van Witsand het vroeër vandeesmaand meer as 300 informele huise op private grond opgerig en die situasie word tans deur ’n private sekerheidsmaatskappy gemonitor nadat die grondeienaar ’n uitsettingsbevel verkry het. Dié bevel kan egter ingevolge die huidige Rampbestuurswet nie uitgevoer word nie.
Volgens Allister Lightburn, proporsionele raadslid van die wyk, verstaan hy inwoners se frustrasies, maar hy sê ook geweld is nie die oplossing vir die probleem nie. Lightburn meen ook inwoners word deur sogenaamde “politieke leiers” mislei.
Volgens Fiona Abrahams, ANC-proporsionele raadslid, word rassehaat, voor die plaaslike verkiesing later vanjaar, deur sekere leiers met verskuilde agendas aangehits.
Volgens kapt. Liza Munro, ’n plaaslike polisiewoordvoerder, is vyf mense weens openbare geweld aangekeer, maar kon nie bevestig hoeveel mense in die gewelddadige betogings beseer is nie.


