Die werkers was Maandag terug by die werk en sê hulle wil net hul families voed. Foto: Murphy Roberts


“Ons kan nou nie kos op die tafel sit nie omdat hier mense met hul eie agendas is.”

Só het die werkers van Amandla-konstruksie gesê. Werkers van dié maatskappy, wat tans sypaadjies in Atlantis bou, is sedert Maandag 14 Sep­tember by die huis nadat die nuutge­stigte Atlantis Black Business Alliance (ABBA) werke tot stilstand gedwing het.

Volgens Dawood Hendricks, same­roeper van ABBA, wil hulle eers die volgende punte bespreek voordat werkers kan terugkeer. Word 30% van die werk aan plaaslike kleinsakeonder­nemings gegee vir bemagtiging? Hulle eis ook ’n ouditverslag van alle bemagtigingskontrakte aan plaaslike kleinsakeondernemings in subraad 1 en die regulasies van South African Federation of Civil Engineering Contractors (SAFCEC) aan kleiner sakeondernemings.

Volgens Zaahid Johnson, agent van Amandla Construction, is die werk deur die forum op 14 September tot stilstand gebring. Volgens Johnson is die werk ook in die verlede deur die plaaslike sakekamer vir dieselfde redes gestop en was Hendricks toe ook deel van dié groep. Hy vertel dat die ingenieur almal toegespreek het oor die vereistes en verskeie plaaslike kleinsakeonder­nemings is deur die proses van onderhoude geneem, onder andere Hendricks se onderneming.

Johnson het aan Weskus Nuus bevestig dat hulle tans 14 plaaslike werkers het en die beste kandidate met ondervinding in siviele werke aangestel is. Hy voeg by dat die sakekamer gelukkig was met die proses wat gevolg is en kon die werk voortgaan. Hendricks het ook gesê werkers is ongelukkig omdat Amandla hulle Ters-geld by die departement van arbeid geëis het, maar dat dit glo nooit aan die werkers oorbetaal het nie. Johnson het dié bewering ten sterkte ontken en sê die forum wil die maatskappy en wer­kers gebruik om in hul doel te slaag. Die proporsionele raadslid van wyk 29, Allister Lightburn, sê dit is ’n kwessie van dieselfde gesig­te, maar nuwe orga­nisasies. Volgens Lightburn is ABBA ’n groep wat weggebreek het van die Atlantis-sakekamer, wat reeds die kwes­sies aangespreek en opgelos het. Hy sê voorts dié groep het ook ’n kontrakteur wat die bome sny gestop.

“Mense kry reeds swaar en met werk­loosheid wat hoogty vier, kan werkers nie verhinder word om kos op die tafel te sit nie,” sê Lightburn. Werkers by Amandla het bevestig dat hulle Maan­dag (gister) teruggekeer het werk toe. “Ons moet ons families voed en kan nie betrokke raak by interne politiek van selfsugtige mense nie,” het een werker gesê. Volgens Hendricks het die forum met regsaksie teen die Stad Kaapstad begin, maar wou nie die kontak­beson­der­hede van sy regsverteenwoordiger bekend maak sodat Weskus Nuus dit kan bevestig nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article