Jubel jy lankal oor die skoolvakansie wat om die draai is of sien jy uit na ’n welverdiende wegbreek hierdie komende langnaweke?
As jy een van dié bevoorregtes is wat beplan om ’n bietjie weg te breek – doen so voort met jou blaaskans.
Carla Oberholzer, DebtSafe se skuldadviseur, meen: “Dit is nie nodig om jouself platsak te trek nie. Jy kan pret hê binne jou begroting, om nie eens te praat van die besparingsgeleenthede wat wel beskikbaar is nie. Ten einde dra elke besparing tot jou geldemmer by.”
Hier ’n paar wenke om te verseker jy werk slim met jou hardverdiende geld:. Sit jou begroting of algehele begrotingsbedrag uiteen vir die vakansie/wegbreek en hou daarby. Moenie te veel geld bestee nie en hou jou vakansiegeld eerder in ’n aparte rekening vir wanneer jy die geld moet onttrek waar nodig. Onthou – kontant kan ook jou vriend wees as jy liewer daardie roete wil gaan. Maar, moenie naïef wees nie – maak seker dat jy dit op ’n veilige plek bêre en bewaar tydens jou OTM-onttrekking. . Neem reisgrootte (mini) toiletware en produkte saam. Moenie toiletware gaan staan en soek sodra jy by jou bestemming aankom nie. Dit kan inderdaad ’n duur storie word, verál by ’n gesogte toerisme-bestemming.. Pak slim en lig – veral wanneer dit by jou lang roete of vlieg kom (om groot bagasie te verhoed). Indien die plek waar jy oornag wel ’n wasplek (wasmasjien en so meer) reeds insluit, is dit ’n wensituasie vir jou bagasie-/tasgrootte. . Indien jy nog nie tyd gehad het nie, sit ’n paar minute opsy en kyk watter gratis of bekostigbare aktiwiteite daar is vir uitstappies of bestemmings wat jy kan besoek. Kyk wat kan werk met die begroting wat jy beskikbaar het. . Speel die ouderdomskaart reg – as jy 60+ jaar is, gebruik jou pensioentrekkerkaart en kry ’n bietjie afslag by winkels of vir toegangsfooie. As jou baba onder twee jaar / jonger as ’n twaalfjarige saamkom, of miskien is jy nog self ’n student, want dan kan die ouderdomspeletjie vir seker wondere verrig om ’n paar rand te bespaar.. Reiskoste kan taamlik duur raak en brandstof is reeds duur. Loop dus waar jy (veilig) kan. En, wanneer jy van vervoer gebruik moet maak – doen deeglike navorsing en maak seker dat die opsie wat jy gaan kies, wel die beste/goedkoopste vir jou sak is. . Data is duur in Suid-Afrika. Kyk dus uit vir plekke wat gratis internettoegang bied.. Wees op die uitkyk vir plaaslike markte of winkels om byvoorbeeld vars seisoenale groente en vrugte te koop.
Bly liewer weg van toeriste-gebiede of -winkels. En, moenie elke aandenking wat jy sien, gaan staan en koop nie. . Maak gebruik van jou huidige besparing-/beloningsprogramme vir jou vakansie, byvoorbeeld wanneer jy jou brandstoftenk laat vol maak of op restaurant-uitstappies gaan.

