“Kom ons vergeet die verlede en bou saam ’n beter toekoms vir almal.”

Dít was die woorde van die Wes-Kaapse minister van infrastruktuur, Tertius Simmers, aan 23 begunstigdes wat Dinsdag 22 Oktober die titelaktes van hul huise ontvang het.

Simmers het aan die groep verduidelik dat Mamre een van 24 sogenaamde artikel 9 van 1987- landelike gebiede in die land is. Volgens Simmers beteken dié wet dat inwoners volgens wet nie grond in die gebied kan besit nie, maar dit verander nou.

“Wat hierdie geleentheid spesiaal vir my maak, is omdat ek uit ’n artikel 9-gebied kom en ek verstaan inwoners se gevoel. Altesaam 684 inwoners het nou reeds titelaktes in Mamre ontvang en dit is die laaste wat ons nou oorhandig het,” het Simmers trots gesê.

Volgens Joe Cooper, die nuwe voorsitter van die Mamre Communal Propery Association (CPA), is dit gewis ’n stap in die regte rigting.

Cooper het huiseienaars egter gemaan om mooi na hul eiendom om te sien en hul titelaktes te bewaar.

“Daar is baie aasvoëls daar buite en mense moet nie dat dié mense hulle met sakke geld beïnvloed nie,” het hy gewaarsku.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article