Beurtkrag is ’n onderwerp op die lippe van vele Suid-Afrikaners.
Daarom moet daar gedink word aan nuwe en innoverende maniere om energie te bespaar. Meer as 90% van Suid-Afrikaanse energie kom van nie-hernubare bronne. Die realiteit is dat die stygende vraag na elektrisiteit beteken dat elektrisiteit steeds in tekort sal wees en die kostes hoog sal bly.
Hier is ’n paar nuttige wenke om elektrisiteit te bespaar en kostes te verminder:
. Skakel toestelle by die muur af en trek die prop uit. Selfs wanneer ’n toestel nie gebruik word nie, kan dit steeds kragstroom trek terwyl dit in bystandsmodus is. Kom dus in die gewoonte om nie-noodsaaklike items soos jou selfoonlaaier, haardroër, lampe en ander toestelle se proppe uit te trek.
. Bedek potte terwyl dit kook. Dit is verbasend hoeveel elektrisiteit bespaar kan word deur bloot ’n deksel op ’n pot te gebruik wanneer kos gemaak word. Pas ook die grootte van die pot by die grootte van die stoofplaat en gaan maklik op die oond.
. Sit ’n geiser-kombers om jou geiser om te keer dat die kosbare hitte ontsnap. Om nog verder te bespaar, verminder die termostaat tot 60 °C – dit is steeds warm genoeg vir ’n heerlike stort, maar sal minder krag gebruik.
. Installeer ’n energie- en waterdoeltreffende stortkop. Dit gebruik tot 40% minder warm water en sal geld op die elektrisiteitsrekening bespaar.
. Vervang gewone gloeilampe met energiebesparende gloeilampe wat ses keer minder elektrisiteit gebruik.
. Neem ’n stort in plaas van ’n bad, dit kan tot 80% van watergebruik bespaar en vyf keer minder elektrisiteit gebruik as om ’n bad water te verhit.
Beurtkrag is vir niemand lekker nie. Maar gelukkig is Suid-Afrika ’n land met oorvloedige sonskyn en in sommige streke wind. Soos meer en meer alternatiewe energie-oplossings aanlyn kom, kan inwoners uitsien na ’n toekoms wat ligter op die beursie is en ook ligter op die planeet is.
Onthou, om minder energie te gebruik sal nie-hernubare energiebronne langer in die toekoms laat hou en ons sal die positiewe effekte wat dit op die delikate omgewing het, raaksien.
. Vir meer inligting oor wat die Atlantis Spesiale Ekonomiese Sone as organisasie doen om ’n groener ekonomie te bevorder, besoek www.atlantissez.com of stuur ’n e-pos na hello@atlantissez.co.za.
Besoek ook www.directaxis.co.za, www.homeinsulations.co.za en www.businesstech.co.za vir meer inligting.

