Padgebruikers word versoek gedurende die Weskus-winter ekstra om waaksaam te wees met reeds 19 ongelukke net in die eerste week in Junie.
Muneera Allie, kommunikasiehoof van die Wes-Kaapse Mobiliteitsdepartement, het veral daarna verwys dat wind, reën, oorstromings en mis sleutelkenmerke is wat Wes-Kaapse padgebruikers uniek uitdaag.
“Terwyl ons ons winterklerekas uithaal en ons huise verhit om gure weer te bekamp, neem ons selde tyd om ons voertuie voor te berei en voorsorgmaatreëls te tref vir algehele veiligheid op die pad.”
Met die skoolvakansie doen die Wes-Kaapse regering ’n beroep op alle padgebruikers om ag te slaan op voertuig-, voetganger- en fietsryersveiligheid dié winter.
Wanneer ritte oor kort of lang afstande in die winter beplan word, word motoriste veral aangemoedig om die toestand van ruitveërlemme, bande, ligte en die weerstoestande na te gaan voordat hulle die pad vat.
Sy benadruk te kort volgafstande, spoed en ligte wat te hoog gestel is – veral in donker – sowel as nat en mistige weerstoestande problematies is.
“Winterbestuur kan onvoorspelbaar en veeleisend wees, wat vereis dat bestuurders ekstra waaksaam en voorbereid moet wees op verskeie uitdagings soos oorstromings en swak sig,” het Allie gesê.
Veiligheidswenke vir motoriste
. Gaan jou ruitveëremme na om te verseker dat die voorruit doeltreffend skoongemaak kan word.. Gaan jou bande na om te verseker dat hulle voldoende loopvlak het vir beter klouvermoë op die pad.. Maak seker jou hoofligte, remligte en rigtingwysers werk behoorlik.. Maak seker die ontwasemer en verwarmer werk reg.. Vergroot die volgafstand tussen jou voertuig en die voertuig voor jou.. Skakel jou hoofligte aan om in donker omstandighede te sien en gesien te word.. Moenie die kopligte op hoëstraal stel nie aangesien dit nat en mistige toestande weerkaats en ander bestuurders tydelik kan verblind.. Moenie skielik hard rem nie aangesien dit jou motor kan laat gly.. Moenie deur diep plasse of sterk vloeiende water ry nie.. Wees bedag op ander voertuie agter jou en in die blindekol-areas aangesien dit moeilik kan wees om deur nat syvensters en kantspieëls te sien.. Voetgangers, fietsryers en motorfietsryers moet in swak sigbaarheid ekstra versigtig wees in die winter.
Wenke vir voetgangers
. Dra helderkleurige klere met weerkaatsers om sigbaarheid te verbeter.. Vermy donker paaie – veral in die nag.. Plaas soveel afstand as moontlik tussen jouself en die ry-oppervlak.. Gebruik aangewese voetgangeroorgange en sypaadjies, waar moontlik, en teen die rigting van aankomende verkeer.
Provinsiale verkeersbeamptes doen gereelde optredes reg oor die Wes-Kaap en is op hoë gereedheidsgrondslag oor die gevaarlike wintertydperk.

