Lede van die Atlantis-ATKV-tak saam met Lydia Botha (Khoisan), Christine Cloete (Nama Khoisan), Annie Loocke en graad 1-9 leerders van Hermes en Grosvenor Primêr sowel as Saxonsea Sekondêr. Foto: David Rossouw


Internasionale Moedertaaldag is wêreldwyd op Dinsdag 21 Februarie herdenk om bewustheid van taalkundige en kulturele diversiteit te bevorder.

Die ATKV-tak Atlantis het die tema “My taal, my kommunikasiekanaal” vir die geleentheid gehad.

Lydia Botha, ’n senior hoofvrou in die Cochoqua-koningshuis, onder leiding van die opperhoof David Johannes van Mamre, is deur die tak genooi om met plaaslike kinders oor inheemse tale te gesels.

Botha is die stigter van die Khoisan Renaissance Kultuur-bewustheid, wat die verteenwoordigende entiteit van die kulturele en tradisionele sektor van die Atlantis- spesiale ekonomiese sone se gemeenskapstoesigkomitee (die ASEZ-CSN) is.

Botha het haar ontevredenheid uitgespreek oor die weglating van die eerste nasie se taal, wat nie onder Suid-Afrika se 11 amptelike tale se kommunikasiestelsel erken word nie.

Sy het die leerders egter op ’n positiewe wyse ingelig van samesprekings met staatsinstellings om die Khoisan-taal binnekort as amptelike taal in te sluit en te erken.

Vier Saxonsea-leesgroepe, onder wie die ATKV-tak se leesgroep, is genooi om aan ’n Khoisan- en Nama-taal- bewusmakingsprogram, wat deur Botha en Christine Cloete aangebied is, deel te neem.

Die Khoisan-tale is ’n taalgroep wat klikklanke gebruik, waarvan die Nama-taal ook ’n lid is en bekend staan as Khoekhoegowab.

Leerders van graad 1 tot 9, wat die geleentheid bygewoon het, is geleer hoe om in Khoisan te groet en te sing, asook hoe om in Nama te tel en te bid.

Weskus Nuus het met ’n paar kinders by die geleentheid gesels om uit te vind wat hulle van taalbewustheid dink.

“Die betekenis van die klikgeluide was baie interessant omdat hulle anders uitgespreek word,” het Tamaicah Adams, ’n graad 7-leerder by Hermes Primêr, gesê. “Vandag het ons meer geleer oor die tale wat ons voorvaders aanvanklik op die vasteland gepraat het, en dit het ons trots gemaak,” het sy vertel.

“Dit is wonderlik om met ander oor jou moedertaal te gesels,” meen Melvina en Melany Kwani, tweelingsusters in graad 9 by Saxonsea Sekondêr.

Volgens Elecia Kwane, ’n graad 6-leerder van Hermes, is die uiteenlopende klikgeluide van groet deur die Khoisan en Nama noemenswaardig, omdat dit verskillend aangebied is, maar steeds dieselfde betekenis gehad het.

Daar was stilte toe tannie Annie Loock (84) leerders met die Jakkels en die Gansie-rympie verwelkom het. Tannie Loock het die gedig gedefinieer op dieselfde manier as wat sy dit 70 jaar gelede in Sub A (graad 1) geleer het.

Sy het dit woord vir woord oorgedra aan die leerders wie se oë op haar gevestig was.

Die ATKV-tak het die herdenking met “my moedertaal is my kommunikasiekanaal” afgesluit en leerders aangemoedig om trots te wees op hul moedertaal.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article