Wayne Hare (in die lug), ’n veteraanspeler van Jomo’s, het die span nuwe hoop gegee kort voordat die wedstryd gestaak moes word.Foto: David Rossouw


Die wedstryd wat elke sokkergeesdriftige van Atlantis na uitgesien het – in die Safa- Kaapstad- Hollywood Bets Mans-streekkompetisie tussen Jomo’s Power AFC en FC Houtbaai United – is 15 minute voor gewone tyd deur ’n Houtbaai-ondersteuner stopgesit.

Jomo’s Power AFC, wat 2024 op ’n hoë noot begin het deur Ocean View FC met 4-1 kaf te draf en na die sesde plek opgeskuif het, het egter vasgeval in twee wegwedstryde teen Camps Bay FC (2-1) en Greenwood Athletic FC (1-0) en teruggesak na die tiende plek.

Die span het FC Houtbay United Saterdag (27 Januarie) op die Saxonsea-sportveld aangedurf.

Die Atlantis-sokkergemeenskap het uitgesien na die wedstryd, want FC Houtbay het ’n paar spelers van Atlantis ingesluit. ’n Rooikaart vir onsportiewe gedrag deur ’n FC Houtbaai-speler het die skaal effens in Jomo’s se guns geswaai.

Clement Fortuin, ’n voormalige doelskieter van Jomo’s Power, het net voor rustyd ’n hoekskop bemeester en Jomo’s se doelwagter, Shafiek Roberts, geklop om FC Houtbaai United se eerste doel aan te teken voordat die spanne gaan water drink het.

Ná die hervatting het afrigter Lonn van Graan veranderinge gemaak en Jomo’s Power het beter begin speel.

Die ontplooiing van die veteraan Wayne Hare het stabiliteit in die middelveld gebring, wat FC Houtbaai gedwing het om sy wedstrydplan te verander.

Met 15 minute speeltyd oor het die skeidsregter ’n strafskop aan Jomo’s toegeken. Die strafskop kon egter nie plaasvind nie, want ’n Houtbaai-ondersteuner het dit vertraag toe hy op die doellyn stelling ingeneem het. Hy is deur die skeidsregter versoek om van die doellyn af weg te beweeg, maar het geweier en die skeidsregter met beledigings toegesnou.

Ricardo van Graan, ’n Jomo’s Power bestuurslid, het ook die toeskouer versoek om gehoor te gee, maar het aan die korste ent getrek toe die ondersteuner hom aangerand het.

’n Bakleiery het tussen ondersteuners en spelers uitgebreek en sowat twee minute geduur, en ná ’n 20-minute-onderbreking is die wedstryd deur die skeidsregter afgelas omdat die skare geweier het om agter die doelgebied weg te beweeg ná talle versoeke van Jomo’s-bestuur en die skeidsregter.

Volgens SAFA Kaapstad se wedstryd-prosedures sal die skeidsregter se verslag na die tugkomitee verwys word.

SAFA Kaapstad het Jomo’s in 2023 vir skarebeheer gestraf toe ’n bakleiery tussen Matroosfontein-Jomo’s Power-ondersteuners uitgebreek het. Die span het ook ’n boete ontvang.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article