Die familie van die vermoorde Joshlin Marthinus (27) wil weet waarom sy vermoor is.
Die beskuldigde wat teregstaan op haar moord, is na bewering ’n tikverslaafde en was bekend aan haar.
Joshlin is verlede Sondagoggend (15 September) winkels toe om pap vir haar kinders te gaan koop, maar sy het nooit die huis gehaal nie.
Volgens ’n familielid is dié ma van twee dogters, onderskeidelik 5 en 10 jaar oud, se liggaam later dieselfde dag onder ’n bed in ’n wendyhuis in Sherwoodpark gevind.
Die familielid vertel: “Joshlin het Sondagoggend, nadat sy ’n oproep ontvang het, vir haar ma gesê sy gaan gou sentrum toe om die kinders se pap te gaan koop”.
Die familie vermoed die verdagte het haar gebel en haar onder valse voorwendsels na hom toe gelok. Joshlin was glo voorheen in ’n onstuimige verhouding met die man, wat sy drie jaar terug beëindig het. Hy het haar glo sedertdien verskeie kere gedreig, vertel die verbitterde familielid.
“Ons weet nie hoe sy daar beland het nie, maar een ding is seker – sy sou nooit uit haar eie gegaan het nie.”
Volgens die familielid het ’n vriend van die vermeende moordenaar alarm gemaak nadat hy gesê het hy het haar iets aangedoen toe haar familie na haar begin soek. Die familielid vertel toe hulle na haar foon bel, het die verdagte na bewering die foon geantwoord en gesê hy weet nie waar sy is nie.
Die verdagte is in hegtenis geneem en was onder polisiebewaking in die hospitaal nadat hy glo Joshlin se foon en ander besittings by ’n beweerde tikhuis probeer verkoop het, waar omgekrapte inwoners van Saxon Sea hom beetgekry en byna doodgeslaan het.
Kapt. Lisa Munro, ’n polisiewoordvoerder vir die Atlantis-polisie, het bevestig die polisie het die liggaam van ’n vrou met ’n plastieksak oor haar kop onder ’n bed in Sherwoodpark gekry. Die verdagte het Woensdag in die Atlantis-hof op aanklag van moord verskyn. Dit het ook uitgekom dat hy ’n hangende verkragtingsaak teen hom het.
Die moordsaak is tot 2 Desember uitgestel. Die beskuldigde bly in aanhouding.




