Ná pres. Cyril Ramaphosa se aankon­di­ging dat die Covid-19-pandemie ’n nasio­nale ramp is, het die vraag na toetse vir dié virus aansienlik gestyg.

Leensie Lotter, woordvoerder van die Weskus-gesondheidsdepartement, verdui­delik hoe die proses werk:

“Slegs mense wat aan bepaalde vereis­tes vir ’n Covid-19-ondersoek voldoen, word getoets. Indien iemand nie hieraan voldoen nie, word hulle nie as ’n moont­like Covid-19-geval beskou nie en dus nie getoets nie,” verduidelik Lotter.

’n Onlangse (internasionale) reis of direkte kontak met enigeen wat onlangs internasionaal gereis het, is een van die vereistes waaraan ’n moontlike pasiënt moet voldoen. Om net griepsimptome te hê, is nie genoeg nie. “Jy moet net vermoed jy het Covid-19 as jy griepsimp­tome het en die afgelope 14 dae oorsee of na ’n gebied waar Covid-19 vinnig van mens tot mens in die gemeenskap versprei, gereis het. Andersins moes jy naby iemand gewees het wat Covid-19 het of vermoedelik het. As jy aan hierdie vereistes voldoen, moet jy jouself afsonder en kontak met ander mense vermy.”

Enigeen wat vermoed hulle is aan die Covid-19-siekte blootgestel, moet liewer tuis in afsondering vir 14 dae bly. Vol­gens die gesondheidsdepartement kan pasiënte nie daarop aandring om in ’n hospitaal opgeneem te word nie.

Synde die uitslag vir die Covid-19-toets nie onmiddellik beskikbaar is nie, moet moontlike pasiënte liewer eers twee weke by die huis bly om te verhoed dat die virus versprei. Die Tygerberg-hospitaal het ’n saal spesiaal vir Covid-19-gevalle ingerig, maar Lotter sê mense wat vermoed hulle het dié siekte opgedoen, moenie direk na die hospitaal gaan nie.

“Moet nie direk na die Tygerberg-hospi­taal gaan nie. Jy stel jou eie gesondheid, asook dié van ander mense in gevaar.

Skakel eers die blitslyn by 021 928 4102 om vas te stel of jy aan die vereistes voldoen om vir Covid-19 getoets te word.”

Sy sê staatsfasiliteite het toetsmateriaal verkry om te toets vir Covid-19. “Ons fasiliteite is in kontak met die nasionale gesondheidslaboratorium­dienste om die vereiste protokols vir toetsing te bewerk­stellig by al ons fasiliteite.”

Lotter sê indien enigeen vermoed hulle is aan iemand met die virus blootgestel moet hulle die nasionale noodlyn by 0800 029 999 of die provinsiale hulplyn by 021 928 4102 skakel. “Verduidelik jou simptome en waarheen jy gereis het of met wie jy in kontak was.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article