Mamre se vrouerugbyspan wat hul oog op Boland-stadion het se veldtog het Saterdag op die span se tuisveld ’n knou gekry. Die vrouespan met afrigter Kenny Stadler het teen Central Wolves van Paarl 17-32 vasgeval nadat die besoekers rustyd reeds 7-15 voor was.

Die span wat by tye gevaarlik op die aanval gelyk het se hanteerfoute het egter die besoekers in staat gestel om die wedstryd te oorheers. Die wedstryd wat die tuisspan moes wen om hul kanse lewendig te hou om wel na Boland-stadion te gaan, plaas nou meer druk op Stadler en sy troepe.

Die span reis die naweek na die Weskus om die streek se vroue te pak. Weskus-vroue is Saterdag ’n rugbyles geleer toe die span deur Walker Bay met 92-0 verneder is. Walker Bay wat die oorweldigende gunsteling is om met die Boland-vrouetitel weg te stap, moet ook nog Mamre besoek.

Die groen truie van Mamre sal hoop dat die loesing van die Weskus-span dalk sielkundige letsels agtergelaat het wat Mamre se kanse kan vergemaklik. Mamre sal die onmoontlike moet vermag om hul bus na Wellington te bespreek. Die span sal nie net Weskus-vroue moet troef nie, maar sal ook Walker Bay in Mamre moet troef indien hulle ernstig is om na Wellington te reis.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article