Werkers van die R27-padprojek wys die plek wat hulle as toilet moes gebruik.Foto: Murphy Roberts


Vroue-konstruksiewerkers van Atlantis en Mamre is woedend omdat hulle in die opelug bos toe moet hardloop as die nood druk.

Die span werkers by die R27-padprojek, wat in Mamre begin en in Yzerfontein eindig, het Weskus Nuus Woensdag (4 Mei) gaan wys waar hulle hul toilet-passies moet uitoefen. Een van die werkers vertel: “Ek moes myself in die bos gaan skoonmaak toe ek siek raak en is toe nog verskree toe ek terugkom.” Werkers moes vermoedelik vir byna twee maande só voortploeter om van die bos gebruik te maak en vertel die kontrakteur het hom nie aan hul klagtes en ongelukkigheid gesteur nie.

Werkers wat vrees vir intimidasie, sê baie beloftes is gemaak, maar daar het dadels van gekom. Hulle het glo “orals gaan aanklop vir hulp” en het ook ’n lys griewe aan die gemeenskapskakelbeampte gestuur. Volgens Carmelita Storkey Williams, die gemeenskapskakelbeampte van die projek, het sy die werkers se klagtes aan die kontrakteur gestuur. Tydens Weskus Nuus se besoek kon duidelik gesien word hoe werkers uit die bos kom. By navraag het hulle verduidelik “dit is ons toilet”. Werkers kla ook hulle moes hul eie werksklere aanskaf.

Weskus Nuus het die veiligheidsbeampte op die toneel gevra waar die toilette is en waar die werkers water drink.

“Ek weet wat is my werk, en niemand sal vir my sê hoe om my werk te doen nie,” het hy teruggekap. Weskus Nuus het die kontrakteur probeer skakel, maar geen reaksie is teen druktyd ontvang nie.

Intussen is toilette blykbaar op die perseel afgelewer.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article